Sunday, August 21, 2022

Die Avonture van Petite & Patat - Ek vat die pad met my beste vriendin!

 "A good friend listens to your adventures, a best friend makes them with you!"

Die beste ding vir die siel is ‘n vakansie met jou bestie. Maar daar is altyd sekere dinge wat mens moet inpak in 'n reeds oorvol tas, maar dis hoekom jy jou bestie vat, sy moet sit sodat jy kan zip!
Daar is soveel dinge wat mens moet doen, sien en probeer, goed wat nodig is, fun is en once in a lifetime is.... So hier is' n guide vir die beste spontane vaca met jou bestie! Maak notas, leer uit ons foute, vat ons advise, want hierdie tannies ken van!
PLACES TO GO AND THINGS TO DO:
Step 1: Kry jou bestie uit Moz om te kom kuier
Step 2: Wing it!
Laat jou bestie No Diggidy saam jou future trou man sing, al last die verhouding net deur sy 20minute acoustic session, fantasie is beter as niks. Dan wanneer die fantasie klaar is, gaan na ‘n plek waar niemand jou ken, of tot iemand uitroep “Stefffffffaaaaaannniiiiiee” – want net so stem kan ‘n ph soos n f laat klink.
Balance is key, die enigste way om dan te prove julle is cool, behalwe shots koop vir al die ouens wat 40 lyk maar jou “tannie” noem, is om te Macarena saam die girls wat 12 lyk! Standards people, ons is al cool gewees in die 90’s.
In jou 30’s kom mens selde so laat tuis, so maak seker jy sluip in, fluister onnodig hard en giggle soos die dae wat jy terug gesneak het van Aqua af met jou hakskoene in jou hand en ‘n handsak vol foam. Jy kan die volgende dag by die werk deal met die feit dat jy glans te oud is vir so kuier op ‘n schoolnight.
Wanneer jy dan kuier met die GeesBees, moet jy seker maak jy raak nie deurmekaar met Mikey Raikonnin en Ricky Hakkanin nie, of was daar ‘n Heineken? Wie ookal dit was, hulle was almal vriende met die P-Wolf en Rooikappie (so not a Dad-joke).
Na ‘n goeie nags rus, pak jy die wa, wel, jou ma se wa – want haar kar is ligter op petrol. Pak alles behalwe die kitchen sink, wees realisties, die lodge gan mos wasbakke hê. Hier is waar ons die pad vat, WindFarm toe eers vir ‘n pie wat alles behalwe ‘n average garage pie is, al langs die N2 verby die spier wit windturbines wat uitstaan soos groot waaiers, maar glad nie skuldig kan wees vir PE se wind nie. Verby hoeke en draaie van die N2 wat jul al menige kere gery het, so by so dat die trippie tussen PE, Jbay en Stormsrivier soos een lang trip down memory lane is, gepaard met soundtracks ook natuurlik!
By Storms gestop en ‘n letterlike sign gekry, wel ‘n A2 poster eintelik, vir wat ons next adventure moet wees – 3-wiel scooters deur die Stormsrivier Bos – soos regte biker rebels straight outa ‘n Dalene Matthee boek. Behalwe dat in haar boeke het niemand gelag as ‘n 13-jarige windgat in ‘n boom vas ry, of jou bestie haar scooter in ‘n hek in crash nie (Side note: “no one was hurt in the making of this adventure”). Dis ‘n adventure van Mild2Wild wat beslis jou battery weer charge, behalwe die een wat gevrek het onroute terug. But so worth it! #Theyseemerollin
Verblyf is altyd vooraf bespreek, ons wing dit, maar ons verkies ook comfort. So book ons in by Abalone Lodges, Knysna – want in PE is dit ‘n hele ander demographic. Cute, cozy, great view – maar pasop vir die onderonsies met die giant spieël.
Dan moet jy in pop by Muse, such a vibe, live music en mense wat claim hul is Dalene Matthee se familie. None the less, so fun. Meeste mense is engels, sommige Afrikaans, maar onthou net in Portugese as jy pao nie reg uitspreek is dit iets heeltemal anders. En as jy jou waitress goed genoeg tip sal sy even vir jou Fly Me to The Moon sing, en jou dooswyn in ‘n fancy take-away koppie sit.
Avoid Kings, dis nie jou tiepe plek, al dink jy so nie. Mar bevind jouself wel op ‘n avontuur na Bloo – waar jy letterlik die TimeWarp kan doen en in ‘n zone intree waar mense hoola hoop (moenie worry – you’ll get the hang of it), wigs en hoedens dra, Barbies braai in toe knyp roosters en ‘n giant seekat uit die klavier prober escape… Ek wens ek het dit opgemaak, maar even ek is nie so cool nie. Dans jou hart uit. Sing ABBA tunes saam 19jariges, maar pasop vir die Tindler Swindlers. Alhoewel die eienaar, jou gewilliglik sal prober oortuig om op die tweedevloer se dak te klim om te escape – freedom of choice.
Bevind jouself erêns oor die naweek in die stilte van die nag op ‘n grondpad na die Knynsa bos, oppad na ‘n timecapsule waar jy jouself vind sterrekyk met ‘n bergwind op jou blad en verbeel jou jy’s Fiela Kommotie se verlore kind. Tot iemand rooiwyn op wit tekkies mors n jy in jou broek wil piepie van die lag.
Oppak suck, so maak dit fun, en paranoidly double check alles, veral die paspoort, wat altyd in jou bestie se handsak is. Catch die roadtrip vibe oppad terug ook, random Afrikaanse musiek help altyd – dis kommin, maar nie kommin, en ons almal weet jy ken elk geval die woorde.
Farewell dinners gan bes gepaard met goeie (en oulike) geselskap. Hand aan hand met te veel tequila, pool stokke en ampere pajama parties. Gesels tot jy jou wekker stel en dit sê 3hrs – wie’s nou die tannies?
SNACKIDY SNACKS:
Jou welkom drankie vanaf die lughawe moet sparkling water wees, want in Moz het net die Woolies dit. Cocktails is key, enige iets wat “festive” is. Jagerbombs, Dirty Tequila, Oesters, onthou net dat een bottle jager die limit is vir die dood – keep a tally…
Nibble, orals – probeer alles, en as daar poppers is sommer twee keer! Die lewe is ‘n avontuur, so jy het altyd snacks nodig. Eet bloukaas pizza saam jou bestie by Tapas, sy’s die enigste een wat nie judge en dit sal opmaak vir die kakkerige mielies.
Maak seker jy eet ribs en pizza met iemand wat homself die GeesBees noem, want hy is legit die snaakse ou wat jy ooit sal teekom. En romanties ook, Ribs by Candlelight - dankie Eishkom, met ‘n echo base “koooom teerrrruuuuuuuuggg” wanneer die krag weer aanskop.
Na ‘n bos adventure is ‘n snack altyd welkom, Bombas by Enricos en ‘n foccasia is altyd ‘n wenner, prober dalk voor die maaltyd op die giant stoel klim, dis bietjie hoër as wat jou bestie sê dit is.
In Knynsa maak ons of ons in mini Sandton is, en die eerste aand is die Waterfront ‘n moet. Sushi en wyn is die menu keuse by 34 South – al die sushi en al die wyn, en natuurlik tequila om die palet skoon te maak. This is the life! Behalwe later in jou aand, wanneer die wyn in ‘n takeaway cup kom (sien bo) en jy die randomste toasted sarmie in jou lewe eet, want 2am snackidy snacks saved your life.
Eet is die beste manier van die tuin roete sien – loop deur die Wild Oats mark op, eet burgers en amazing slap chips by Pili Pili (nie poa pao, onthou dis iets anders). Eet al die tapas by Tapas & Oysters (wees speit jy’t nooit die oysters probeer, al dink jy jou lyf sal ‘n pêrel kan broei). Compensate met Nachos, mossels, sushi en champagne terwyl jou bestie haar hart uit skree vir die groen en goud op die TV. Maar moenie jouself ooruig dat by die volgende stop ‘n chocolate mousse gemaak uit avo en piesang lekker klink nie – dit doen nie, trust us.
Stop by die Heath vir ‘n babalas brekkie, ‘n iced koffie en ‘n pep talk vir verder ry. Padkos is nodig – biltong, skuimpies en motivational fuel tot jy JBay haal waar jy ‘n Catch of the Day maaltyd kan geniet, al is die diens effens crap en die mense daar beweeg in slow motion.
Change of pace beteken sushi word dan Nachos en die tequila bly Mexican wanneer ‘n quick Chingadas dinner ‘n random kuier sessie word. Gepaard met Frozen Margaritas en lag tot jou maagspiere kramp. Maar moenie dat iemand jou oortuig dat ‘n 1liter margarita on tap enige iets anders as ‘n mini Jojo tank is nie – PE het ‘n waterkrisis.
GESEGTES IS KEY:
Karavaan, karavaan, karavaan – wat ookal dit beteken. Kommin is beter as meer kommin. That song came out when I was 12. "Ons werk more". “That's crazy Bru, that's fucken hectic” (en maak ‘n TikTok om te prove jy ken die song rerig).
EXTRA OM TE PAK:
- Matching Sweaters, want elke avontuur kort ‘n naam #AdventuresofPetiteandPatat
- ‘n Polaroid kamera – maar onthou die extra film, en om actually fotos te neem.
- Extra skoene, wat nie wit is nie. Wyn vlek. It’s a thing.
- Rennies – iemand gan jou sometime vra.
- ‘n Spaar vape – sharing is not caring.
- Cleaning wipes, jy dink jy kort dit nie, maar jy doen.
- Tissues – fynbos is mooi maar dit haat jou.
- ‘n Leesboek, wat jy nooit gan lees, but just in case.
Belangrikste van alles vir die perfekte random vaca met jou beste – lag tot jy huil (of pee), don’t get offended when she calls you Daisy, moenie in die geel strepe ry nie, brush op op jou hoola hoop skills en skree “I fucken love you” randomly en hard na mekaar, maak nie saak wie kyk of waar jy is – want soul sisters is amazing, van stokkies draai op skool dae tot way te veel keer “tannie” genoem te word – sy’s jou bestie en elke avontuur is beter met haar!
#adventuresofpetiteandpatat #winggirl #livingthelife #bestieeste can't do life without you bestie! Tot ons volgende avontuur
LM

Sunday, February 6, 2022

Die vrou, die slang en die midde-stad - Senhora Da Cobra, Maputo, Mozambique

Wanneer 'n mens iets spesiaal vind in 'n dorp, of wel hier 'n stad, wil mens altyd begin met "in die hartjie van...", maar hier is dit nie naby "die hartjie van" Maputo nie, meer soos daar naby die treinstasie, in oogglans van die nuwe brug, by die werkersmonument (Praca dos Trabalhadores) is die monument wat my hart en my verbeelding gesteel het.

So kom ons begin dit met... ken jy die storie van die vrou en die kobra?

Senhora van die voor en regterkant (Foto LM/SP)
In Mozambique is daar 'n plaaslike legende bekend as "Senhora da Cobra" - die Vrou van die Kobra.  Volgens dié legende, was daar 'n groot boom in die middel van hierdie besige deel van die Maputo se middestad. In hierdie boom het 'n reuse slang gebly, waarskynlik 'n Mosamabiekse spoegkobra, wat almal wat onder die boom deurgestap het gepik het en sodoende hul dood veroorsaak het. Van kinders, na vrouens en werkers, almal was slagoffers vir die onheil wat 'n kobra was.

Eendag het 'n vrou besluit, genoeg is genoeg en het 'n groot pot warm pap gekook, en tradisioneël dit op haar kop gebalanseer om onder deur die boom te loop. Toe die slang haar probeer aanval en byt, het hy in die groot pot geval en verbrand in die hitte van die pap. Die vrou het as held terug geekeer na die gemeenskap en almal het haar moed en heldige daad geprys.

Jare later is die monument in haar eer opgerig in die dorpsplein, ter eer aan die werkersgemeenskap. Baie was gekant hierteen, want die eer moes wees vir die werkers en Mosambiekse vegters wat in die eerste Wêreldoorlog oorlede is, maar eerder is die fiktiewe vrou simbolies vereer. Die groot, klip monument is deur die kunstenaar Ruy Rogue Gameiro, saam met argitek Veloso Reis in 1935 ontwerp en opgerig.

Senhora da Cobra in al haar glorie (Foto LM)
Senhora verteenwoordig die legende van hierdie oorwinning, met 'n groot slang aan haar voet, asook die gild en swaard wat eer bied aan die koloniese tydperk en gevegte van die land. Die land se nasionale wapen word ook uitgebeeld, met klipwerkers uitgekerf aan die voet van die reuse monument.

Toe ek eers gehoor het van haar, het ek my oë nuuskierig by elke straat af bekyk met die hoop dat ek 'n glimpse van haar kan kry, en toe ons uiteindelik die regte straat vind, en die duisende tuktuks en taxis verby geglip het, het ek haar gewaar. In alle prag. In die middel van 'n rotonde, sodat jy met jou voertuig om haar kan ry. Reuse groot, nie life-size nie, maar drie dubbel dit! Sy staan omtrent drie meter hoog, met haar onderste pedestaal omtrent 4 tot 5 meter hoog. So seker 8 meter in totaal, jy kan nie die groot standbeeld miskyk nie. Ek het nou die my maatband saam geneem nie, dit het nie gepas by my toeriste uitusting nie. 

Wat ek wel weet, as nou nie haar lengte, dis dat sy my inspireer het. Haar storie, fiktief of nie. Dat mens soms nie moet wag vir 'n held om jou lewe te kom red nie, maar dinge terug na basics neem, en self opstaan om dinge te verbeter. Sy het nie gewag dat 'n soldaat of 'n president of iemand haar kom red van die slang, sy hett bloot net gedoen wat sy elke dag gedoen het, 'n pot gekook, maar net een stap verder gedink. Ons is ons eie held(in), en dalk klink ek feministies, maar hierdie fiktiewe vrou het my hart gesteel, en laat besef dat ons nie 'n ruiter op 'n wit perd nodig het nie, maar eerder ons eie avontuur kan beplan, te voet, of te perd - maar op ons eie terme!

So tot ons volgende avontuur,

Fique orgulhoso!

LM


Sunday, February 28, 2021

LA Café – Grahamstad – Koffie, Burgers & Tronkselle

FOTOS LM


Met aankoms staan ‘n groot bloekomboom, met swaaie wat sag in die bries beweeg, honde hardloop rond in die nabye botaniese tuine, en die reuk van koffie beweeg deur die blare van die area. Op ‘n besige kampus dag dink ek die studente wemel soos rooimiere hier in en uit. Mens wil eintelik net jou oë toemaak, en alles in neem. Die area, die reuk, en die kos van LA Café in Lucas Avenue is so impressive, dit kan jou sommer in die tronk laat beland – letterlik.

LA Café is in 2020 oor geneem deur Thokozani, dit was voorheen die Provost Café – geleë binne in die 1838 gebou wat eens gedien het as ‘n militêre tronk.  Die uitleg van die voorname tronk was vanuit die konsep van Jeremy Bentham se Panopticon tronk, ‘n ontwerp wat uniek was aan die Britse Kolonialiste, waar konstante toesig toegepas kon word van uit die dubbelverdieping wagtoring wat af kyk op 8 selle en ‘n binnehof. Elke sel is omtrent ‘n 2 meter by 3 meter, met ‘n klein venster en ingangs deur.

LA Café het elke sel omskep met ‘n unieke, moderne uitleg wat dien as privaat eetkamertjies, elkeen met sy eie tema. Die binnehof gee mens so ampere Franse vibe, met stoeletjies en tafels gerankskik tussen plante, beeldkuns en die oop plafon laat die oggend son in, die bries en die sagte gedruis van die Grahamstad paaie in die nabyheid. By hierdie Nasionale Historiese monument voel jy beslis nie soos ‘n gevangene nie.

Binne en uitleg van LA Cafe  - FOTOS LM

Thokozani, sy guns en buns - FOTO LM

LA Café se spesialiteit spêr baie verder as net amazing koffie – hul bied tuisgemaakte lekkernye, terte en koekies aan sowel as quiches en ligte maaltye. Toe ek Thokozani, die eineaar, vra wat hy dink is hul beste dis, het hy sonder vroom gesê hul Bean Burger, die vegetariese dis. Wat hul tuisgemaakte burgers nog meer gewild maak is die feit dat alles home-made is – selfs die vars brood wat hul bak, ‘n reuk wat jou knië lam maak en jou mond laat water.

Ek gan beslis weer my vonnis gan uitlê by LA Café in Grahamstad. En jy kan ook – besoek hul gerus, of kontak vir Thokozani op 076 975 5020. Volg hul ook op Instagram en Facebook.

Tot ons volgende tronkstraf – ek bedoel avontuur…

LM

Thursday, February 4, 2021

Bruintjieskraal, Baviaanskloof – Die perfekte wegbreek

Op aankoms (Foto LM)


Die internet sal vir jou verduidelik dat die Baviaanskloof presies 129.5km weg van Port Elizabeth af is. Vir my is die distansie anders gemeet – wanneer jy deur Patensie ry, verby die landerye vol sitrusbome, die reuk van lemoen jou neus prikkel, en omtrent so 1km na die laaste boord jy heeltemal sein op jou selfoon verloor – DIS wanneer jy weet jy is in die Baviaanskloof.  

Die naam self, Baviaanskloof, kom vanuit die Duitse vertaling Vallei van die Bobbejane... Hiermee kan mens nie stry. Hulle is vollop, en mens hoor hul growwe stemme weergalm in die kloof se kranse. Gelukkig vermy hul vir die meeste mense, dis maar net die reuk van Loskop kampers se kos wat hul lok.

Uitleg en uitsig va ons kamparea (Fotos LM / JDL)

Bruintjieskraal is aan die oewer van die Grootrivier Poort wat by die ingang van die wildernis area van die Kloof (soos ons cool mense na dit verwys) is. Dit is omtrent so 8km op die grondpad, maar kan darem met ‘n normale voertuig bereik word en is dit nie nodig vir 4x4 nie. Alhoewel, vir die wat al ooit saam met my gan kamp het – weet dat ek letterlik alles behalwe die kombuiswasbak in sal pak – gelukkig in die geval, want Bruintjieskaal se kampeerterrein bied by elke staan plek ‘n gerieflike “kombuis” met tafels en wasbak onder dak. Sodra jy jou goedjies uitgepak het, jou solar liggies in geprop het, voel dit heel gerieflik teen die tyd jy jou eerste verversing skink.

Die locals (Fotos LM)
Ons kamp staanplek was mooi tussen die kloof en die grondpad (net soos my siel), alhoewel mens die karre kon hoor verby ry, pla dit nie, dis immers net een elke klomp uur of so. Die gedruis van die lopende rivier koel jou af, en berustig jou op die selfde tyd. Jy hoor hoe suis die water oor die mini-rapids en in die hitte van die dag maak dit mens darem rustiger.

Elke kamp is ook gerig met ‘n toilet en stort wat water vanuit die Grootrivier pomp. En as die oortuiging dat daar moontlik ‘n slang tussen die pragtige klipstruktuur vir jou loer jou nie pla, kan jy heerlik met die deure oop stort en jou eie semi-Tarzan style moment hê.

(Foto EDPVE)

Neem ‘n gazebo saam! Dis my raad vir die hitte! Ys kan gekoop word by die ontvangsarea, asook hout. Maar in die hitte van die kloof wil mens nie vuur maak of beweeg nie. En gaan swem in die rivier. Trek jou kostuum (en jou groot mens broekie aan) en “take the plunge”! Dis heerlik, afkoelend en verbasend diep op sekere plekke. Die kloof omsingel jou as jy in die rivier rond dryf. Met bome na links, ‘n stroom na regs, die kloof agter jou en die verlate kampterrein voor jou. Al wat jy hoor is voëls wat nes maak op die rivier bed, vêr verlate skape wat blêr en jou vriend wat skree, “Iets het aan my voet gevat!”


Staproetes is 'n moet (Fotos LM)
Die Kloof is ook ‘n hiker se droom. Daar is eindelose stap roetes, klouterkranse en voetpadjies. Omsingelende klowe om jou aan te bewonder, random plaasdiere en ‘n haastige skilpad ook. Mens kan nie genoeg rond kyk nie. Op na bo na ‘n visarend at nes maak, af na onder vir nog ‘n stroom water om oor te kruis. Die stof sit styf teen jou tekkies, en al drip die sweet jou effens af, voel jy met elke tree meer vervris. Dis amazing. Eintlik moeilik om te bewoord…

Buintjieskraal is die perfekte wegbreek. Vêr genoeg van die stad om jou siel te recharge, maar naby genoeg dat jy steeds vrydagmiddag na werk kan pak en deurry vir ‘n naweek. So leen ‘n tent, koop ‘n paar marshmellows, pak jou stap skoene en gaan ontspan. Onthou net jou Peaceful Sleep en toiletpapier!

Vir meer inligting oor Bruintjieskraal, besoek hul webblad: https://www.bruintjieskraal.co.za/

 

Tot ons volgende avontuur,

LM

Thursday, March 19, 2020

'n Ander Tiepe Boeretroos - Silver Stallion

Nou kyk, daar is min dinge in die lewe wat my so gelukkig maak soos 'n lekker koppie boeretroos. Moca-chino, cappuccino, café latte... selfs net 'n gewone ou koffie gemaak met liefde - dis alles lekker! Koffie bokkie - right here!

So wanneer ek 'n voëltjie hoor fluit dat daar 'n lieflike klein café is wat jou foto op jou koffie druk - ja, jy't reggelees - dan moet mens mos nou gan kyk! En so vind ons Silver Stallion in Beaconbaai, Oos-Londen, waar die breë glimlag van die barista jou verwelkom, die aroma van koffie en die minimalistiese uitleg net genoeg is. Nog meer betowerend is dat Silver Stallion gelink is Truth Coffee - wat toevallig my gunsteling koffie winkel in Kaapstad is! Nou weet ek die koffie gan lekker wees, mar hoe presies gan my gesig op 'n cappuccino lyk...

Lo and behold - ek was nie teleurgestel nie! Jy kan of 'n foto daar neem, of een whatsapp - natuurlik kies ek die latter, want die kapsel is nie geborsel of gepoeier nie. En hier is die uitkoms...

Aitsa - Gesiggie op koffie - Silver Stallion (Foto LM)
Grondpad Dromers - die latte version! (Foto CD)
Ek was so impressed! Wow! My koffie is warm, al is dit opgeprint, my reuksintuig is geprikkel en kyk net hoe oulik lyk ek in koffie! Seker 'n miljoen werd die ou ding, maar nee - die gedrukte personlised koffie is niks meer as jou standard rate koffie nie. So natuurlik moes ons toe ook die Grondpad Dromers logo probeer. Baie impressive Silver Stallion - ek en my geprinte voorkoms sien jul binnekort weer!

Volg gerus Silver Stallion op Facebook: https://www.facebook.com/silverstallionthreads/
Of vind hul in die Beaconbaai Crossings Komplek, in Oos-Londen.

Tot ons volgende avontuur, en koppie boeretroos...

LM

Monday, March 2, 2020

Natuur, Kampvure en Olifante - Addo Olifant Park


Hierdie park is al jare deel van my gunsteling wegbreek plekke. Addo Olifant Park is 52 minute vanaf Port Elizabeth – naby genoeg om nie ongerieflik te wees nie, maar vêr genoeg om te voel asof jy behoorlik in die bosveld is.

Die museum/informasie sentrum by Main Camp is baie insiggewend - Addo (Foto LM)
Die kamp / verblyf geriewe is perfek, gemaklik, skoon en uit gekit met net wat nodig is. Die beste is snags hoor jy al die geluide wat goed is vir jou siel – die kraak van die braaivleis vuurtjie voor jou, die wilde honde wat stout oor die veld hardloop, die kampers langsaan wat vertel wat hul gesien het,  die dowwe gebrul van ‘n leeu in die verte - selfs die oom wat in die kampstaanplek langs jou lê en snork pla jou nie eens nie. Want die natuur en die Afrika gevoel sluk jou in sodra jy die park binne tree.  
Daar is twee hoof ingange van Addo wat ek gereeld gebruik, een deur die dorpie Addo, waar jy dan by die hoof kamp terrein begin, of deur Colchester, waar jy van die onderpunt af op ry tot bo in die park. Kampeer plek is beskikbaar by die hoof ingang (Addo dorp se kant), asook luukse safari tente, chalets ens.

Hier is die kostes verbonde, asook die bewaringsfooie wat bereken word: https://www.sanparks.org/parks/addo/tourism/tariffs.php

Verskeie diere in die Addo park (Foto LM)
Addo Olifant Nasionale Park vorm deel van die San Parks groep, dit is die derde grootste park naas die Kruger Wildtuin en Kgalagadi Park. Addo is 1640km2 – moenie my vra hoeveel rugbyvelde dit is nie – maar ek is seker dis groot genoeg vir die hordes olifante om hul eie Super 14 liga te kan begin.
Addo Olifant Nasional Park spog met die Groot 5 – Buffels, Leeus, Olifante (duh!), luiperd en renoster. En met die laaste kamp was ons gelukkig om 4 van die 5 te sien, net die luiperd wat ons ontgaan het. Soms kan mens ry in die park en niks sien nie, ander dae is jy baie gelukkig, mens moet net geduldig wees. Verkykers help, asook ‘n groot blaas, mar as die nood roep is daar darem Jack’s picnic spot in die middle van die park waar jy toilet geriewe het en ook braai fasiliteite, bene strek, regroup en dan verder kan ry.  

Behalwe vir die Groot 5 kan jy ook sien: kudus, jakkalse, meerkat, rooikat, rooihartebees, zebra, duikertjies, hyena, grysbok, vervet apies, vlakvarke, aardwolf, watermonitors, en die oulikste klein ding – die flightless dungbeetle, onder andere.

Addo se Flightless Dungbeetle (Foto LM)
Addo is bekend vir die Flightless Dungbeetle, of in suiwer Afrikaans: landgebonde / vlieglose miskruier (toemaar, ek het ook gefrons). Hulle is enige iets vanaf ‘n 50c groote tot so groot soos jou palm. Hierdie hardwerkende diertjies is so besorg, dat daar verskeie tekens deur die park is wat jou waarsku om nie oor hul, of enige olifant mis te ry nie. Hul rol die olifant mis versigtig in ‘n balletjie, die wyfie lê ‘n eier in die misbolletjie en dit word weggerol en onder grond ingewerk sodat die larwe kan uitbroei. Ek dink hulle is vrek oulik, en die beste voorbeeld van: “een man se k@k, is ‘n ander man se skat”.

Jack's (Foto LM)
Jack’s Picnic Spot, soos bo genoem, is in die middle van die park. Dit is vernoem na een van die park se swart renosters (daar is nie wit renosters in die park nie).  Jack, die renoster, het sy laaste dae in die park deurgebring in die area waar die piekniek plek nou staan. Renosters is in 1961 in die park in gebring, Jack was een van hul en was toe reeds 5 jaar oud. Jack is oorspronkik JA-a genoem, ‘n verwysing aan JA Hunter wie verantwoordelik was vir die uitwis van meer as 1000 swart renosters in Kenya. Hy was deur ‘n veldwagter (Karools Goliath) herdoop as Jack, wat meer gepas was. Baie renosters is uit die park verwyder en hervestig, maar Jack het ‘n hart kondisie gehad en sou dit te gevaarlik wees om hom te probeer skuif. Jack was oor die ouderdom van 30 toe hy oorlede is, en sy storie staan trots by die rusplek vir almal om te lees.

Maar dis mos Addo OLIFANT Nasionale Park, en daar is definitief rede – daar is baie olifante. In die park self is daar in die 2016 sesnus 700 gewees, maar huidige tellings is glo tot oor 1000. Hierdie jaar (2020) is daar ook tweeling olifantjies gebore – dit is baie skaars, maar die park het in sy bestaan al 4 pare tweelinge verwelkom.  Mens kan werklik ure sit en kyk hoe hul swem, eet, trompeteer, en jou verkyk aan hoe groot hul is, mar so verskriklik stil.

Olifante is volop in Addo - Gentle Giants - (Foto LM)
Sien ook my opkommende blog spesifiekk oor die olifante van Addo en meer geskiedenis daaroor. Van hul uitwising voor die park se ontstaan, die stigting van AONP, Hapoor en sy kroos, lemoene, sitrusboere en meer.

As jy verveeld raak, wat regtig onmoontlik is, is daar ook ‘n bird-hide vir die avid birdwatchers, ‘n informasie sentrum (museum) wat meer oor die park wys (en die storie oor Hapoor vertel). Of as jy nie lus is vir braai, kan jy die restaurant in die park besoek  - fyi – beste cappuccinos!
Maar vir nou los ek jou met die ideë: is jy naby PE, is jy oormoeg, wil jy wegkom en recharge – gaan na Addo – glo my, dis worth it. Van die vriendelike veldwagters, na die opgewonde toeriste, die ongelooflike sonsondergang oor die park, en die geluid van die natuur in die Afrika atmosfeer…. Sug… vat my terug!

Mar tot ons volgende avontuur…
LM

Wednesday, January 22, 2020

Lipstick, Steytlerville en die Follies - Karoo Theatrical Hotel

Lugfoto van Steytlerville dorpie  (Foto: www.baviaans.co.za)



Steytlerville is 164km vanaf Port Elizabeth en is werlkik ‘n one horse town, met een lang en ook breë hoofstraat, ‘n paar afdrentel straatjies en ‘n yslike mooi katedraal Kerk. Die hoofstraat is juis so gebou oor dit sedert 1876 spesifiek gebruik sou work vir ossewaens, nie vandag se luukse voertuie nie. Die kerk self is gebou in 1907 spog met ‘n toring wat 53m hoog is, nog te min ‘n kerkklok wat 1.6 ton weeg. 


Lady De Waal Brug (Fotos: LM)

Net buite die dorpie vind jy die Lady De Waal brug wat gebou is in 1911/12 en vernoem na ‘n administrator se vrou – want dis mos hoe jy die liefde verken in die karoo… Die brug word selde nou gebruik, maar is oop vir die publiek en staan nou as nostalgiese huldeblyk.

Net oor die Lady de Waal kom mens by die (in my opinie) hartjie van hierdie Karoo dorpie en as jy dink die karoo het net skapies en windpompe is jy verkeerd… Die Karoo Theatrical Hotel is nou waaragtig nie ‘n droë plek nie! Met ‘n uitsig oor die dorpie, is dit amper asof die hotel self op ‘n verhoog staan. Nogals gepas met wat na ure by hierdie stil karoo hotel gebeur…
Karoo Theatrical Hotel se ingang en voorkoms is uniek en verwelkomend (Fotos: LM)
Met aankoms is die geel mure van die hotel aanloklik so in die dor Karoo weivelde, en alwyne verwelkom jou saam met die engelbeelde na die hotel wat ‘n baie mexikaanse aangesig uitbeeld, of dalk is dit net al die pronkende kaktusse. 

'n Grênd nessie (Foto: LM)
Wanneer jy by die stoep onloop verander die voorkoms heeltemal, van self ‘n chandelier wat nou ‘n nessie en eiertjies huisves en daarom nie gebruik kan word nie, na gemaklike stoele en banke waar jy seldsaam kan sit en kelkies drink terwyl die klank van die karoo stil in die agtergrond suis.

Die Karoo Theatrical Hotel huisves minimale gaste in grênd kamers wat uitgelê is, met sommige wat uitloop op die swembad, ideal vir die somersmaande wanneer die hitte jou tref. Op winters aande vind jy die luukse uitleg van die hotel self aanloklik en is daar baie fotos, nostalgie en kunswerke om te bekyk in die hotel se voorportaal en ontspan areas.

Die hotel, soos genoem, offer minimale verblyf en sodoende kan jy spesiaal voel met jou naam op ‘n verwelkomings bord by ontvangs, en eienaars Jacques en Mark wat jou persoonlik groet en kelkies offer.  Daar is soveel om jou aan te verkyk in die hotel dat ‘n mens jouself amper verloor, asof jy kan wegraak in die dekor of verdrink in die detail, elke klein ietsie is strategies uitgelê en kan net hier in die Karoo Theatrical Hotel tuis lyk. Dit is ‘n hoarder se droom, ‘n kunstenaar se heenkoms en ‘n fotograaf se perfekte venue. ‘n Plek waar almal tuis voel, maar ook soos royalty. En definitief nie asof jy in ‘n Hotel bly wat al in 1943 opgerig is nie. Mar ek belowe jou destyds het hul nie gedink dit sou heenkoms wees vir die amazing Follies nie.

Binne die Hotel (Fotos: LM)
Want hierdie is nie net ‘n hotel nie, dit is ‘n hele avontuur op sy eie. Jou akkomodasie tarief sluit ‘n hele twee dae package in.  Dit begin met kelkies en canapes by sonsondergang, met die klank van eienaar Mark wat klavier speel terwyl jy besmul aan heerlike kosse en eersteklas musiek.

Daarna word jy deur die rooi teatre gordyne ingelei na Grimaldi’s Theatre waar klassieke ronde tafels met kandelabras uitgedek is, en jy skielik onthou hoe daai vrou in die Titanic fliek iets gesê het van as jy nie weet, moet jy begin met die buitenste silwerware en jouself inwerk. Dankie tog vir useless info.
 
Elke tafel het sy eie detail, alles gepaard met teater en shows en liedere van bekende produksies. Phantom of the Opera, Le Papillon, Merchant of Venice… Terwyl jy jou verkyk word ‘n heerlike 3-gang maaltyd bedien vanuit die boonste raake, met eienaar Jacques as aanbieder van die disse, en ek verneem ook die maak daarvan. Regte kookkos soos net ‘n Karoo Hotel sou kan, mens kan amper sweer jou ouma werk ook in die kombuis.

Binne die Grimaldi Theater (Fotos: LM)
Na die ete kom die show, en dit is tog waarvir almal na die Karoo Theatrical Hotel gan. Om die beroemde Follies te sien, Dame Leyla Lamborghini (eienaar Jacques in drag) en die meistro Freddy Ferrai (eienaar Mark) op begeleiding en klavier. Nou Leyla is ‘storie en ‘n half hoor, hul website noem haar die Karoovian Diva en kan ek net bevestig – sy is! Oh waarlik sy is! As jy ooit gedink het jy het ‘n show gan kyk wat jou voete onder jou uitslaan, het jy nog nie die Follies beleef nie. Of dit nou die rooiwyn was, die smaaklike kos, die glans van die kerslig of net Leyla self – ek was gobsmacked! My mond het oopgehang, my kieste het gepyn van die lag en ek was net daar en dan convinced dat sy my Spirit Animal is. Mens kan sien hoeveel tyd, liefde en energie in die show in gaan en vir dit is ek as kyker ewig dankbaar en glad nie speit oor die 164km rit vanuit PE na hierdie Karoo dorpie nie.

Die Follies is iets om te beleef. By ontbyt die volgende oggend (ook ingesluit in jou akkomodasie tariewe) suis my ore nog van opwinding en humm ek nog al die pad saam met die diva tunes van die vorige aand. Die plaaslike katte en honde drom om jou asof jy self al tuis is in hierdie wonderlike plek, en besef jy met ‘n swaar hart dat jou Karoo Theatrical Hotel experience verby is en jy die Follies moet groet. Almal sê jy moet hierdie show een keer beleef, in my opinie – doen dit twee of drie of sommer 4 keer! Ek gaan beslis.
Hotel van buite (Fotos: LM) 
Kontak gerus die Karoo Theatrical Hotel op 049 835 0010 / info@karoohotel.co.za
En vat jourooi lipstiek saam op die een…

Tot ons volgende avontuur...
LM