Thursday, February 2, 2017

Lekker lekker by Pili Pili op Sedgefield

Nie almal weet van Sedgefield se asemrowende strande nie, vir baie is hierdie dorpie slegs ‘n drive-through in die tuinroete. Dis ook hoekom min mense weet van die amazing restaurant wat snoesig in die duine van Sedgefield lê, en dis ook hoekom mens aangenaam verras is met hoe lekker hierdie gesellige, tongknopende restaurant, Pili Pili is.

Gesellig en gemaklik by Pili Pili op Sedgefield (Fotos LMH)
Pili, soos hul menu verduidelik is die Swahili word vir pepper, dus is hul naam letterlik Pepper Pepper, maar stem ek saam klink Pili Pili baie cooler. En met hierdie surf style, rustige restaurant moet mens cool voel.

Die vloer is seesand, en jy kan lekker jou tone in die sand krul terwyl jy aan een van hul cocktails sit en smul. Die boma braai en pizza oonde maak vir ‘n gesellige atmosfeer en is dit ‘n lekker kuier plekkie vir middagete, skemer kelkies of aandete. Hul bedien pizzas vars uit die buite pizza oonde en die kelners is baie vriendelik. Pizza is definitief hul forte en sal ek nie enige iets anders daar aanbeveel nie.

Muurskildery in Pili Pili (Foto LMH)
Pili Pili sit teen ‘n sandduin vlak by die see, maar is beskud teen wind en son, mens hoor darem wel die branders breek, al kan jy dit nie sien. Dit voel soos vakansie hier, of jy nou op ’n Desember vakansie besoek, of sommer net ‘n naweek se deurry het. Dit is die perfekte plek om te kuier, jou tone in die sand te druk, pizza te eet en te ontspan.

Besoek hul in Witsand, Sedgefield of kontak hul gerus deur Facebook, of hul webblad; www.pilipili.co.za

Hoop jul geniet die seesand tussen jul tone!

Tot ons volgende avontuur…

LMH

Moderne Meerminne: Wateroefeing Klasse op Groot Brak

As dit kom by oefen is ek nie altyd voor in die ry nie, en verkies ek ‘n rustiger vorm van fiksheid. Toe ek hoor van Groot Brak Aqua Aerobics was ek nogals nuuskierig, want waterfiksheid is soos swem, en in die hitte van die Tuinroete is niks lekkerder as ‘n swembad nie.

Carrie van Wyk, stigter van Groot Brak Aqua Aerobics, het my vriendelik by haar voordeur verwelkom toe ek in die hitte van die dag by hul kleinhoewe op die R102 by die Jonqua afdraai opdaag. Niksvermoedend wou ek in hul pragtige, diep steen-swembad spring, maar het ek myself in toom gehou en haar begin uitvrae oor die ideë van die klasse. 

Klasse met die beste uitsig (Foto LMH)
Toe Carrie hul eerste seun verwag het sy die kwalifikasie gedoen om hierdie klasse aan te bied, kort daarna is haar tweede seun ook gebore en daarna het die bou van hul familie huis op die kleinhoewe belangriker gevoel. Maar nou, met die huis gevestig, die seuns rustig en die kalmte van die Outeniqua voor haar stoep, het sy besluit om dit volstoom aan te durf en die klasse aan ander te offer. Jy kan in haar stemtoon hoor hoe passievol sy is terwyl sy my vertel van haar planne om later ook lidmaat van die Water & Fitness Association te word.

‘n Groep dames arriveer en ons almal gesels asof ons mekaar langer as net 10 minute ken. Daar word gelag, gegiggel en sonder enige ongemaklikeheid is almal reg vir die swembad. Ek vra uit oor die idee van fiksheid in ‘n swembad en Carrie antwoord met ‘n glimlag, “Even in the pool you can work up a sweat, if done correctly.” 

Die atmosfeer is so asemrowend soos die uitsig. Die 2m diep swembad biet gemaklike dryfvermoë, en poolnoodles vervang die ideë van handgewigte. Klasse is een uur lank, met ‘n warm up and cool down, soos Carrie verduidelik.

Lekkerste lekker! (Foto LMH)
Met gym fooie tans so hoog, was ek verbaas dat Carrie se klasse slegs R20 per les of R150 vir ‘n maand is. Met klasse elke Dinsdag en Donderdag oggend (10h00 of 11h00). En die eerste klas is nog boonop verniet! Besprekings is wel nodig en kan jy haar kontak op 082 718 5421 of epos grootbrakaqua@gmail.com

Carrie skep ‘n atmosfeer waar jy oefen en fiks word sonder dat jy eintelik dit agterkom, mens lag en speel en voel nie asof jy deur ‘n weermaggeneraal gedril word nie. Hierdie is die lekkerste tiepe fiksheid oefeninge en ek sal die Groot Brak Aqua Aerobics klasse aan almal voorstel. Jonk, oud, groot, klein, dis vir elke vrou! So volgende keer as jy die Cadbury slab van R14, of die Coke van R15 wil aanskaf, onthou dat jy vir slegs R20 ‘n waterklas kan neem en jouself meer kan geniet as net op die bank lê.

Splish, splash en my storie is weg, ek hoop om almal by die klasse te sien!

Tot ons volgende avontuur,
LMH


Friday, January 20, 2017

Deur die Krokodil se Bek: Cango Wildlife Ranch

Die wat my ken sal weet, ek is mal oor diere. Enige iets van ‘n krokodil met ‘n bek vol tande, kleurvol en kletsende voëltjies tot my gunsteling dier, die koningryke leeu. Dus was ek in my noppies om na die Cango Wildlife Ranch te gaan waar hul al hierdie en nog meer diere het!

Die coolste ingang ooit, massiewe krokodil mond. (Foto: LMH)
Toe ons eers daar aangekom het het ek soos ‘n kind gevoel, en was ek dadelik herhinder aan my kinderdae en ou fotos van my en my sus voor die groot krokodil bek ingang van die Cango Wildlife Ranch. Erens in ‘n boks pruik ‘n foto van ons tussen die tande soos miniatuur tandestokkies, jare later en die mond pruik steeds, hieroor was ek baie trots en moes my man na ‘n uur lange gesprek luister oor wat ek kon onthou van daardie uitstappie. Gelukkig was ek klein ek kon ek feitlik net dit onthou, en die krokodille. Ek was soos ‘n eerste keer besoeker toe ons eers deur die kaartjie hekkie gaan en kon ek nie wag om te begin deurloop nie. 

Hul offer gidstoere wat jou deur die park neem en vertel oor die diere ens, maar omdat ek myself as ‘n National Geograpic expert label en nie altyd van groot groepe hou nie, het ek sommer self vir ons gids gespeel. Toe ons eers die uitleg van die plek uitgefigure het, was dit ‘n lekker gidslose stappie, maar was ek tog speit dat ek nie meer inligting kon werf van een van hul kennise nie. Gelukkig het ons sommer Jaarlike Kaartjies aangeskaf, teen baie goeie pryse en weet ek ons sal weer (en weer) die plek besoek en wel tog ‘n gids inlyf.

Vissies der duisend  (Foto LMH)
Jy loop eers deur ‘n grotterige deur en bevind jou self in ‘n reënwoud met duidende visse in ‘n humiditeit wat skrik vir niks. Daar loop ook ‘n mak blouduikertjie hier en die oulikste swart voëltjie wat sommer soos ‘n skoothondjie agter jou aanloop. Moet net nie skrik as jy opkyk! Want uit die dak, sonder hokke, hang daar enorme groot vlermuise (gelukkig is hul vegetariërs). Soos muise met vliënierlisensies, maar tog steeds verbasend pragtig in hul eie vreemde manier.


Krokodil spog met sy tande (Foto LMH)
Deur die volgende deur vind jy mak poue amper om elke draai wat jou skeef aankyk as jy verby loop, so asof jy hul en hul sjarme nie moet pla nie. Daar is bosvarke, ystervarke, meerkatte, slange, lemurs, flaminke, miniatuur seekoeie en selfs ‘n otter wat so spog-spog deur die water gly. 

Mens kom natuurlik na die Cango Wildlife Ranch vir die krokodille. Groot, swaar, gediertes wat lyk of hul soos standbeelde doodstil lê, monde mooi oop vir die tandarts voëltjies en net ook om die toeriste te herhinder dat hul nie deel van ‘n petting zoo kan wees nie.

Petting zoo is daar wel vir die kinders, met hasies en skapies en nog meer. Langsaan ‘n kinderspeel area wat self waterkanone het, en met die hitte wat Oudtshoorn tref, was ek amper self onder een van hul net vir die afkoel. Gelukkig is daar ‘n restaurant met verversings, hul is redelik duur, maar dors bly dors.  ‘n Kleiner kiosk help ook darem hiervoor.

Lemurs snoesig (foto LMH)
Verby die lemur area, waar jy self met die klein entertainers kan ingan vir ‘n Lemur Experience (hoeveel mense het die Madagascar fliek se I like to move it, move it hier al gesing?), kom jy by my gunsteling afdeling – die groot katte! 

Lekker lui jagluiperde / cheetahs (Foto LMH)





Cango Wildlife Ranch spog met cheetahs, luiperde, wit leeus en selfs tiere. Soos enorme huiskatte, lê hul op die warm dae en slaap, maar op ‘n koeler dag vang jy hul baljaar in water, bome en selfs rond loop. Die stap oor hout planke hoog bo-oor hul hokke maak dat jy de beste uitsigte het van hul prag. Hier kan ek ure lank staan en staar… as dit net nie so warm was nie!

Wanneer so uitstappie na ‘n einde kom, voel ek altyd hartseer, asof ek maatjies agterlos wat deur ‘n vinnige oogkontak my beste vriende geword het en kan ek net nie wag om hul harige, skubberige en geveërde lyfies weer te sien nie.

Van die diere te sien by die Cango Wildlife Ranch (Fotos LMH)

Cango Wildlife Ranch se ingangs kostes van R160 per volwassene klink hoog, maar dit is elke liewe sent werd. Jaarlikse kaartjies is bekombaar teen slegs R350 en beteken dit dat jy na jou tweede besoek gratis ingan! Daar is ook baie aktiwiteite, van ingaan met die cheetahs of lemurs na duik saam met die krokodille. Beslis iets vir die avontuurlustig, en is ons nie maar almal nie!

Hoop ons sien jul op een van ons besoeke daar, kyk uit vir die vreemde vrou wat met al die diere gesels, ek sê dan mos ons is tog nou al maatjies.

Tot die volgende avontuur…


LMH

Monday, January 9, 2017

Amazing Aarbeie - Redberry Strawberry Farm

Aarbeie by Redberry Farm (Foto LMH)
Al is ek alergies vir aarbeie, wou ek die kans om my eie te pluk nie misloop nie, my man sou tog gunstig dit geniet! En bly is ek dat ons gegaan het - die Redberry Strawberry Plaas op Geelhoutboom Straat naby die George lughawe is waarlik 'n belewenis wat almal moet ervaar!

As jy rigting beneuk is soos ek, en jy't sniffer insigte, kan mens amper die plaas uitruik, dit ruik soos vars aarbeie met room, of daardie aarbeie shampoo wat mens altyd in gaste huise sien. Daar is velde vol bloedrooi bessies wat gewag om gepluk te word en vir slegs R30 'n bakkie is dit 'n bargain wat jy nie by jou supermark sal kry nie.

Miniatuur Trein (Foto LMH)
Die pluk is in velde van aarbeie waar jy self kies watter jy sal wil pluk en geniet, dit neem 'n tydjie maar is die moeite werd, die natuur is beeldskoon en met 'n miniatuur treintjie wat stoomloos deur die landery pronk vol kindertjies kan mens jouself net geniet.

Die Redberry Farm het ook 'n Strawberry Maze, wat ons graag sal wil doen, maar op hierdie spesieke dag was dit bloedig warm en het ek nie kans gesien om die grootste maze in die Suidelike halfrond aan te durf nie. Definitief nie sonder 'n sonhoed en sonskerm nie, maar ons sal wel volgende keer aandurf.

Daar is ook 'n oulike plaaserige winkel waar jy enige strawberry verbonde verversing kan aankoop en ook die restaurant benut, waar hul alles met 'n aarbei bedien!

Hul het verskeie goed om jou besig te hou meer en kan jul gerus loer op hul webblad: http://www.redberryfarm.co.za/

Ek was inderdaad baie verras met hoe baie ek die aarbei plaas geniet het en kan nie wag om weer te gaan nie. Al kon ek nie die vrugte van ons arbeid eet nie, het ek wel die pluk geniet!
Want 'n grondpad verstrooi met aarbeie is asemrowend mooi...

Geniet jul bessie avonture in 2017!

LMH

Tuesday, December 20, 2016

George Oord – Die Suburban bliss van vakansieoorde

Dit is min dat mens vakansie akkomodasie vind wat jou laat voel dat jy op vakansie is en op dieselfde tyd soos huis voel. George Oord is juis net dit. Met gerieflike kamp spasie, karavaan staanplekke, enkelkamer en dubbelkamer chalets, is hierdie regtig ‘n lekker “home away from home”.


Chalet Nr 9 was ons tuise (Foto LMH)
Die chalet wat ons ingebly het was groot genoeg vir 6, met ‘n dubbelbed in hoofkamer, twee enkel beddens in die tweede en ‘n ‘sleepersofa’ in die TV kamer. Die chaltes het almal TV’s en DSTV (sodat mens nou nie verveeld is op die klein okkasies van reën nie) en die kombuise, al was hy klein, was gerieflik. Ek het net my oond gemis, aangesien ek lief is vir bak, en nog nie die twee plaat bak storie gemeester het nie.

Katrien die pou kom soek haar oggend krummels by ons voordeur
(Foto LMH)



Die oord het ook lekker eienskappe soos vriendelike werkers, gerieflike opruimspanne, ‘n swembad, tramolien en waskamer. Die waskamer het wasgoed doen vir my interesant gemaak omdat hul masjien soos ander laundromats coin operated was, en kon mens jouself verbeel jy is in ‘n Amerikaanse fliek of dalk was dit te veel DSTV. Andertye het ek die wasgoed ingegooi, my wekker op my selfoon gestel en saam met my man na die bosveld TV gekyk (dis nou die braaivuur).

Ek het maklik tuis gevoel tussen die lang bome, middag sonstrale wat deur die blare skyn en baie voëls om na te kyk en te luister. Daar was kort-kort ‘n Piet-my-Vrou wat roep-roep so met sonsondergang, eende wat waggel op perseel asof hulle die plek besit, selfs ‘n Loerie van tyd tot tyd het my oog gevang. Maar my gunsteling by ver is die groep van amper 10-12 poue wat hulself ook hier huisves. Ek het vining van hul begin hou, en hul het vining besef dat ek soggens vir hul krummels uitsit. So slim dat my man sommige oggende as ek laat sluimer my kom wakker maak met ‘n sarkastiese: “Jou kinders kom soek hulle kos.” Ek was vasbeslote dat ek met hul sou click en het my Disney Prinses titel geeis met die dat hul eventueel uit my hand geëet het.

Katrien se mooi man (Foto LMH)
Mens kan nie help om tog geheg te raak aan diere nie, en as jy soos ek is is die reël gewoonlik as hul ‘n naam kry, dan is dit verby. En so het ek dus vir Katrien ontmoet. Katrien was een van die grys vaal wyfie poue, met lang wimpers en was die eerste om uit my hand te peusel. Ons was onmiddelik maatjies. Sy het later ook haar man na ons gebring, die enigste pou met lang, flambojante vere, maar hy wou nie sy biscuit vir ons skut nie. Nietemin het ons wel elke oggend en elke aand lekker gekyk hoe hul saam drom op ons hout stoepie en toe ons vakansie tot einde kom, was ek inniglik hartseer om Katrien te verlaat, want sy het nie omgegee dat die mal tannie op die stoep wat so vrygewig krummels weggee met haar gesels nie.

Stoute apie (Foto LMH)


Wie ek nou wel nie meer vriende gemaak het nie is die apies. Vervetapies swaai soggens en saans deur die bome of soek na kos, maar as jy my vra soek hul net moeilikheid. En ek is 100% oortuig ek was geteiken, want hul het my brood gesteel wat vir de poue bedoel was, amper met ‘n koekiebak weggeglip, elke oggend moddervoetjiespore op my kar venster gelos en my waansinnig deur die take dopgehou. My man natuurlik het gedink ek is simpel, want al hierdie dinge het slegs gebeur wanneer hy nie by my was nie, en moes ek foto-evidence gee. Die apies is pragtig en oulik, maar ons het net nie gemeng nie. As hul op die stoep baljaar het ek maar eerder rustig gesit en Masterchef Australia kyk.

Die George oord is werklik baie gerieflik en lekker en met kamp plek en chalets beskikbaar is dit ‘n ideale ontspanning vir die familie. Dis ook gerieflik naby aan die Outeniqua Plaasmark (lees hier as jy my insetsel daaroorgemis het: http://grondpaddromers.blogspot.co.za/2016/11/outeniqua-plaasmark-n-naweek-gunsteling.html ) en ook Eden Meader Mall. Vic Baai is slegs 4km vanaf die oord met Wildernis ook net 7km weg.

Besoek gerus hul webblad www.georgeresort.co.za

Geniet die avontuur… passop net vir die apies!

LMH 

Tuesday, December 6, 2016

Outeniqua Vervoer Museum, George – Treine en Nostalgie

Die Outeniqua Vervoer Museum (Foto LMH)

Daar is iets omtrent treine en treinstasies wat my baie nostalgies maak. My oupa was ‘n stasiemeester en ek kan nie help om aan hom te dink as ek plekke soos die Transnet Outeniqua Vervoer Museum in George besoek nie. My oupa en my pa het ons baie stories vertel oor die doen en late van my oupa as stasiemeester. Ek onthou self ou familie films wat ons op projektors teen ‘n wit muur gewys het waar my oupa trots in sy donkerblou stasiemeester pak, met sy uniform hoed netjies aan, spoor toe loop om die aankomende trein verby te wys. 

Ek was definitief opgewonde oor my besoek na hierdie museum! Die museum bevat stoomlokomotiewe, ou karre en kan selfs “name-drop” met oud president Paul Kruger se lokomotief en ook die bekende 1947 Wit Trein waarop Queen Elizabeth Suid Afrika besoek het.

Met die aankoms is daar groot stoomlokomotiewe buite die perseel om na te kyk en lyk die museum self soos ‘n staats gebou, en met rede – die museum is gebou rondom die oorspronklike treinstasie en het selfs binne nog die oorspronklike spore, stasiehuis en vloerskaal.

Die Stormberg Lokomotief (Foto LMH)
Met die inkoms, nadat jy slegs R20 ingang betaal het (dis reg, slegs R20!) staan daar ‘n lokomotief genaamd Stormberg. ‘n Pragtige 100 jaar oue lokomotief. Die Stormberg het vanaf 1880 tot 1980 op die spoorweë tussen Oos-Londen en Queenstown gery. Vir party is dit dalk nie interesant nie, maar vir my was hierdie heel eerste lokomotief in die voorportaal waar my liefde vir die museum bevestig is, want dit sou beteken dat hierdie einste lokomotief in die jare 60’s en 70’s my oupa op daardie presiese roete verby sou vat waar hy op sy stasie op Amabilie gepronk het. Onmiddelik het ek soos ‘n klein dogtertjie gevoel ek kon ek nie wag om nog te sien nie!

 Met die deurloop van die museum is daar baie treine om na te kyk, elkeen met ‘n ander storie. Daar is selfs ‘n miniatuur treinkamer waar jy kan kyk hoe ‘n modeltrein kompleet met bome, huise en ‘n brug om sy spore wentel. Die detail van hierdie modelskaalse kunswerk is asemrowend.

Pres Kruger se trein (Foto LMH)
President Kruger se treinlokomotief en een van die kajuite is ook hier te sien. ‘n Luukse binnekant met leer banke, hout vesters en afrondings, selfs sy ou gramofoon plaat staan op die kajuit vloer in ‘n mooi hout kas wat ook ‘n knersiekas (drankkabinet) is.

In die middle van die museum is die ou stasiehuis waar mens die publieke telefoon (nou stokoud) en treinkaartjies kom aankoop. Asook die vloerskaal waar hul tasse en toerusting kon weeg. Die ou SAR kaartjiemasjien is bloedrooi geverf en is herstel na die oorspronklike prag. Daar pronk ook ‘n Nestle “vending machine” waar mens 1D (one dime) kon insluit vir ‘n sjokoladetjie. Met vandag se sjokolade prys kan mens dink hoekom hy nie meer werk nie.

Van die karre op uitstalling (Foto LMH)
Daarna bevind jy jouself in klassieke-motor-hemel vir die wat gons oor ou karre. Morris, Cadillac, Valiant en selfs ‘n VW Bus om my gunstelinge te noem. Duidelik is ek in die verkeerde era gebore, want hier het ek en my man ons self te veel geniet tussen die ou karre en ‘n treinstasie. Ons het hier ook een van die opsigters en vrywilligers ontmoet wat die museum behou en benut en gelukkige mense soos ons op private toere neem.

Die Wittrein, of gedeelte daarvan, word by die Outeniqua museum uitgestal en is vanaf die Britse koning en koningin se rein in 1947 toe hul Suid-Afrika kom besoek het. Hul het vanaf February tot April landwyd in hul eie spesiale wit trein gereis met hul twee dogters Margaret en Elizabeth – laasgenoemde wat nou die huidige koningin van Britanje is. Die Wittrein is nie oop vir die publiek by die museum nie, maar as jy mooi vra en iemand vriendelik daar ontmoet sal hul jou binne neem. En dit was ons geluk…

Die Wittrein (Foto LMH)
Die koningstrein is wit, vanselfsprekend soos die naam Wittrein, en netjies versorg deur die museum. Daar is baie detail aan die trein gegee, nie net vir museum vereistes nie, maar vanaf die bou van die trein vir die koninglike gebruik daarvan. Die trein is netjies en mens kan sien dat in 1947 hierdie definitief ‘n luukse trein was. Met hout afrondings, koper en silver versierings, spesial gedrukte spyskaaarte, en ‘n aanboord kombuis, was daar definitief nie hier afgerammel nie.

Prinses Margaret en Elizabeth (nou
koningin) op die Wittrein in 1947
(Foto Flickr)
Deel van die treinkajuituitstalling is destydse Prinses en nou Koningin Elizabeth se slaapkajuit. Met private badkamer. Dit lyk nie soos veel meer as ‘n normale treinkamer nie, maar verhitte spiëels, lugreguleering en knoppies om die knagte aanteroep spreek anders. Die belangrikste is dat ek in haar kajuit was, gesit het op stoele waar sy gesit het en vir ‘n spesiale oomblik self soos royalty gevoel. Nog meer interesant is dat die jonge prinses op haar toer deur SA haar 21ste verjaarsdag op hierdie einste trein sou vier.

Die museum maak mens nostalgies en trots oor die bevordering van Vervoer en spesifiek treine in SA. Met trein inspirasie, geskiedenis, tegnologie en verskeie meer interesanthede, kan ek nie anders as om mense aanteraai om te gaan kyk nie. Dit is werd die R20 ingang wat jy betaal en jy kan self ‘n koffie en lekkerny benut by hul koffiewinkel. Moedig jul vriende aan om hul kinders te neem, moedig jul ouers aan om ‘n “trip down memory lane” te neem, en gaan geniet die nostalgie van die Outeniqua Vervoer Museum. Glip sommer die 1991 treffer van Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock “Tussen Treine” in die CD speller oppad na die museum om jouself in die bui te kry!

Geniet die nostalgiese avontuur wat hier vir jou wag!


LMH

Nog fotos van binne die museum: