Die Outeniqua Vervoer Museum (Foto LMH) |
Daar is iets omtrent treine en treinstasies wat my baie
nostalgies maak. My oupa was ‘n stasiemeester en ek kan nie help om aan hom te
dink as ek plekke soos die Transnet Outeniqua Vervoer Museum in George besoek
nie. My oupa en my pa het ons baie stories vertel oor die doen en late van my
oupa as stasiemeester. Ek onthou self ou familie films wat ons op projektors
teen ‘n wit muur gewys het waar my oupa trots in sy donkerblou stasiemeester
pak, met sy uniform hoed netjies aan, spoor toe loop om die aankomende trein
verby te wys.
Ek was definitief opgewonde oor my besoek na hierdie museum!
Die museum bevat stoomlokomotiewe, ou karre en kan selfs “name-drop” met oud
president Paul Kruger se lokomotief en ook die bekende 1947 Wit Trein waarop
Queen Elizabeth Suid Afrika besoek het.
Met die aankoms is daar groot stoomlokomotiewe buite die
perseel om na te kyk en lyk die museum self soos ‘n staats gebou, en met rede –
die museum is gebou rondom die oorspronklike treinstasie en het selfs binne nog
die oorspronklike spore, stasiehuis en vloerskaal.
Die Stormberg Lokomotief (Foto LMH) |
Met die inkoms, nadat jy slegs R20 ingang betaal het (dis
reg, slegs R20!) staan daar ‘n lokomotief genaamd Stormberg. ‘n Pragtige 100
jaar oue lokomotief. Die Stormberg het vanaf 1880 tot 1980 op die spoorweë
tussen Oos-Londen en Queenstown gery. Vir party is dit dalk nie interesant nie,
maar vir my was hierdie heel eerste lokomotief in die voorportaal waar my liefde
vir die museum bevestig is, want dit sou beteken dat hierdie einste lokomotief in
die jare 60’s en 70’s my oupa op daardie presiese roete verby sou vat waar hy
op sy stasie op Amabilie gepronk het. Onmiddelik het ek soos ‘n klein
dogtertjie gevoel ek kon ek nie wag om nog te sien nie!
Met die deurloop van die museum is daar baie treine om na te
kyk, elkeen met ‘n ander storie. Daar is selfs ‘n miniatuur treinkamer waar jy
kan kyk hoe ‘n modeltrein kompleet met bome, huise en ‘n brug om sy spore
wentel. Die detail van hierdie modelskaalse kunswerk is asemrowend.
Pres Kruger se trein (Foto LMH) |
President Kruger se treinlokomotief en een van die kajuite
is ook hier te sien. ‘n Luukse binnekant met leer banke, hout vesters en
afrondings, selfs sy ou gramofoon plaat staan op die kajuit vloer in ‘n mooi
hout kas wat ook ‘n knersiekas (drankkabinet) is.
In die middle van die museum is die ou stasiehuis waar mens
die publieke telefoon (nou stokoud) en treinkaartjies kom aankoop. Asook die
vloerskaal waar hul tasse en toerusting kon weeg. Die ou SAR kaartjiemasjien is
bloedrooi geverf en is herstel na die oorspronklike prag. Daar pronk ook ‘n
Nestle “vending machine” waar mens 1D (one dime) kon insluit vir ‘n
sjokoladetjie. Met vandag se sjokolade prys kan mens dink hoekom hy nie meer
werk nie.
Van die karre op uitstalling (Foto LMH) |
Daarna bevind jy jouself in klassieke-motor-hemel vir die
wat gons oor ou karre. Morris, Cadillac, Valiant en selfs ‘n VW Bus om my
gunstelinge te noem. Duidelik is ek in die verkeerde era gebore, want hier het
ek en my man ons self te veel geniet tussen die ou karre en ‘n treinstasie. Ons
het hier ook een van die opsigters en vrywilligers ontmoet wat die museum behou
en benut en gelukkige mense soos ons op private toere neem.
Die Wittrein, of gedeelte daarvan, word by die Outeniqua
museum uitgestal en is vanaf die Britse koning en koningin se rein in 1947 toe
hul Suid-Afrika kom besoek het. Hul het vanaf February tot April landwyd in hul
eie spesiale wit trein gereis met hul twee dogters Margaret en Elizabeth – laasgenoemde
wat nou die huidige koningin van Britanje is. Die Wittrein is nie oop vir die
publiek by die museum nie, maar as jy mooi vra en iemand vriendelik daar
ontmoet sal hul jou binne neem. En dit was ons geluk…
Die Wittrein (Foto LMH) |
Die koningstrein is wit, vanselfsprekend soos die naam
Wittrein, en netjies versorg deur die museum. Daar is baie detail aan die trein
gegee, nie net vir museum vereistes nie, maar vanaf die bou van die trein vir
die koninglike gebruik daarvan. Die trein is netjies en mens kan sien dat in
1947 hierdie definitief ‘n luukse trein was. Met hout afrondings, koper en
silver versierings, spesial gedrukte spyskaaarte, en ‘n aanboord kombuis, was daar
definitief nie hier afgerammel nie.
Prinses Margaret en Elizabeth (nou koningin) op die Wittrein in 1947 (Foto Flickr) |
Deel van die treinkajuituitstalling is destydse Prinses en
nou Koningin Elizabeth se slaapkajuit. Met private badkamer. Dit lyk nie soos
veel meer as ‘n normale treinkamer nie, maar verhitte spiëels, lugreguleering
en knoppies om die knagte aanteroep spreek anders. Die belangrikste is dat ek in
haar kajuit was, gesit het op stoele waar sy gesit het en vir ‘n spesiale
oomblik self soos royalty gevoel. Nog meer interesant is dat die jonge prinses
op haar toer deur SA haar 21ste verjaarsdag op hierdie einste trein sou vier.
Die museum maak mens nostalgies en trots oor die bevordering
van Vervoer en spesifiek treine in SA. Met trein inspirasie, geskiedenis,
tegnologie en verskeie meer interesanthede, kan ek nie anders as om mense
aanteraai om te gaan kyk nie. Dit is werd die R20 ingang wat jy betaal en jy
kan self ‘n koffie en lekkerny benut by hul koffiewinkel. Moedig jul vriende
aan om hul kinders te neem, moedig jul ouers aan om ‘n “trip down memory lane”
te neem, en gaan geniet die nostalgie van die Outeniqua Vervoer Museum. Glip
sommer die 1991 treffer van Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock “Tussen
Treine” in die CD speller oppad na die museum om jouself in die bui te kry!
Geniet die nostalgiese avontuur wat hier vir jou wag!
LMH
Nog fotos van binne die museum:
No comments:
Post a Comment