Friday, June 9, 2017

Knysna / Plettenbergbaai Vure - en die hartseer wat dit bring



Die vure in Knynsa, Plett en omringende gebiede los my sonder woorde en is hartsroerend! My gedagtes en gebede gaan uit aan die mense wat huise en geliefdes verloor het.
Ook aan die volunteers wat dag en nag help.
Die liefde wat ons prag area ontvang maak my hart bly.
#grondpaddromers #knysnafire #tuinroete

Vir altyd trots om in hierdie mooi area te bly en ek weet die groen gras sal onder die swart as uitkom!

Liefde vanaf die grondpad....

LMH

Tuesday, May 30, 2017

Vrye Veer - Birds of Eden Heiligdom

Van buite, op die grondpad na die ingang, kan mens die verskillende roepe van die voëls in die massiewe twee hektar groot aviary hoor, asof jy naby 'n reënwoud kan wees, sou ek my verbeel. Ons maak toe ons pad na die ingang via hul curio winkel en bevind ons in 'n paradys van voëls...


Loeries kom sit naby vir smull vrugte (Foto LMH)
Birds of Eden net buite Plettenbergbaai is 'n reuse onderdak aviary waar meer as 200 spesie voëls hulself bevind. Deur twee hout deure bevind jy jouself in 'n droomland vol reuse bome, houtpaadjies, hangbrug en voëls wat vrylik bo jou rond vlieg. Dis binne minute wat ons die growwe Loerie reeds hoor skree en kan ons ons opgewondenheid nie keer.

Nou moet ek bieg, ons is nie voëlkenners nie, en besit nie 'n boek oor watter voël waar voorkom en is nie van plan om 'n Big Year te doen nie, maar ons sal wel tot stilstand kom vir 'n valk langs die hoofpad, of uile soek wat buite ons woonstel saggies roep in die nag. So gesê kan ons genoeg spesies self uitken en is puik Googlers, so ons was opgewonde om die voël paradys te sien waarvan almal so praat.

Ons was aangenaam verras met wat ons ingewag het, met die eerte paar tree het die fisante om ons voete gespartel en die Loeries hard geroep by vars bakke wate en vrugte wat die personeel vir hul uitgelê het. Kompleet met 'n water stroom en waterval wat saggies druis soos mens oor die hout planke loop deur die oerwoud van bome en blare.

Blou duikertjies loop rustig rond (Foto LMH)
Tussen die geskarrel van grond voëls het ons ook baie blou duikertjies gewaar en het hul ons harte gesteel. Bo in die kap van die bome hang daar ook groot vlermuise wat kamermaats vir die voëls is. Soos mens opkyk na die aviary se dak kan mens die blou Macaws sien rond vlieg, gepaart met duiwe en parakeet. Klanke van voëls omring mens is voel mens of jy in die oerwoud van Rio is, presies soos daardie kinderfliek, sonder al die Samba.

Daar is 'n dammetjie waar eende hul vermaak met swanne, en grasvelde waar bloukraanvoëls nostalgies smul. Rooi flaminke, met hul supermodel lang bene loop reg langs jou, min gespin oor wie jy is. Swane, eende, hornbills.... Vere, vlerke, kuikens.... Swemmend, stappend, vliegend.... Die voëls omring mens, en is dit 'n absolute fees van vlerke!

Verskeie voëls kom te sien by Birds of Eden (Fotos LMH)

Ek was nog nooit so geintereseerd en omgeslaan deur die mooiheid van geveerde spesies nie, maar hier, by die pragtige Birds of Eden het ek my hoed afgehaal vir die bewaring, rehabilitasie en inligting wat die aviary en sy diere bied aan die publiek.

Ek sal die ervaring aan elk een voorstel, dit is werklik merkwaardig en die prys werd. Hier sou ek ure lank kon rond wandel en selfs net rustig sit en kyk hoe die voëls my en mekaar vermaak.

'n Fantastiese, vol vere, ervaring!

Tot die volgende avontuur...
LMH

Monday, April 24, 2017

Knysna Olifant Park en hul Grootvoete



“You know… they say an elephant never forgets. What they don’t tell you is, you never forget an elephant.” Bill Murray (Larger Than Life-movie).

Knysna olifant Park (Foto LMH)
Hierdie is die aanhaling by die ingang van die Indlovu Café by die Knysna Olifant Park, 9km vanaf Plettenbergbaai op die N2 na Knysna. ‘n Aanhaling wat die ondervinding by Knysna Olifant Park perfek beskryf. So hierdie is my storie van hoe ‘n een tand matriarch my aangeraak het in meer as net ‘n fisiese form…

As voormalige Baaienaars (Port Elizabeth) is ek en my man albei gereeld op avonture na Addo Nationale Olifant Park, dit was op die drumpel van die Baai en iets wat ons gereeld gedoen het. En soos Dalene Matthee hul genoem het in Kringe in die Bos, het ons van daar af verlief geraak op die grootvoete. Diere met die grootste lywe, maar nie lomp. Groot families, maar steeds gekonnekteer. Stil, sterk, met gewimperde oë wat lyk asof hul alles kan sien, en groot ore, want ons weet hul hoor alles.


Die Knysna Park se grootvoete (Foto LMH)
Die verskil tussen wat ons van olifante op Addo ondervind het, was dat daar altyd iets tussen ons en die olifante was, en ons hierdie wilde diere slegs deur ons motorvensters kon gewaar. Dus was ons nog altyd geintereseerd in Knysna Olifant Park waar hul “extraordinary elephant encounters” adverteer. Die kans om hierdie magtige diere nie net van nader te beskou nie nie, maar om hul te voer en aan te raak. ‘n Lewenslange droom vir baie, en definitief vir ons ook.  So op een Saterdagoggend, omdat ons nou op die drumpel van Knysna bly, het ons besluit om die grootvoete te gaan besoek, ons eie Saul Barnard ondervinding te hê en ons lewenslange droom te bewaarheid.

 ‘n Kort grondpad van die N2 af bevind ons onself by die Knysna Olifant Park. By ontvangs kan mens ‘n wit emmertjie propvol pampoen, skorsies, wortels en beet aankoop vir R45, maar hierdie is nie deel van die ontbyt spyskaart nie, hierdie vars lekkernye is vir die olifante, en wys reeds watter sorg hierdie park aan hul diere offer, my man het selfs gegrap dat hierdie groente varser as ons lokale supermark se groente was!
 
Terwyl ons wag vir ons gids en die toer om te begin, is daar in die video sentrum ‘n kort documenter oor die begin van die park, wat reeds in 1994 begin is deur Ian en Lisette Withers met slegs twee klein olifant kalfies wat uit culling in die Kruger Wildtuin gered is en gerehibaliteer moes word. Die eerste oliante is benaamd Harry en Sally, en so het die Knysna Olifant Park ontstaan.

Harry en Sally het ‘n belangrike rol gespeel in die vooruitsig van die rehabilitasie van olifante asook die verkenning van die spesie, met besoekers wat na die park asook met Harry wat selfs skole besoek het. Nie net dit, maar die groot Harry het selfs in 2003 ‘n filmrol saam met Patrrick Swayze gehad in King Solomons Mines wat hier in SA geskiet is. Sedert daardie jare het die park gegroei, met olifante wat kom en gaan, en so is Harry ook weg na die Plettenbergbaai Wilds Park om by ‘n bestaande groep olifante aan te sluit.
 
Netjies wag hul vir hul smulhede (Foto LMH)
Na die video is ons begelei na die slaap area van die olifante, en die groot groen velde van die Park waar jy per trekmotor gelei word na die ondervinding wat jou hart laat klop en jou soos ‘n kind op Kersfees laat voel.

Netjies agter ‘n reeling, in ‘n ry, soos hul vermoedelik opgelei is, staan die reuse diere vriendelik, rustig en verwagtend vir die lekkernye in die wit emmers wat ons en die toeriste aandra. Saggies neem hul die kos uit jou hand uit, met die growwe hare van hul slurp vreemd op mens se hand, staan mens eintelik in verbassing met hoe rustig en goed gemanierd hierdie groot diere is. Hul kan natuurlik hand uitruk, hul bly steeds wild en is natuurlik bewus van hul eie grootte, maar soos mens kan sien is die park goed vir hul en is hul so dankbaar vir die aandag, respek en natuurlik kos.

So kom ons by Sally, wat die eerste van die olifante in 1994 was en vandag in 2017, op die ouderdom van 28, die matriarch van die trop is, die so-genaamde “groot mamma”, al het sy self nog nie ‘n kleintjie gedra nie. Mac, ons toergids, wat ook sedert 1994 by die park is, vertel ons oor haar een vermiste ivoortand, so vanaf geboorte, weens generiese afwyking. Terwyl Mac praat, saggies en met respek vir die groot dier, kan ek nie help om verbasend te kyk hoe groot sy is nie. Ja ja, ek weet olifante is groot, maar om te gaan van TV of selfs in ‘n kar ry op Addo en om nou so sonder enige iets tussen ons voor hierdie dier te staan was asemrowend. Sally het my hart gesteel, daar en dan.
Sally en ons gids Mac, albei wonderlike siele (Foto LMH)

Ons is toe die geleentheid gegee om aan haar te raak. Nou kyk, ek het al baie National Geografic gekyk, en You Tube clips van “What happens next…” en is selfs op Addo op twee verskillende keure deur ‘n olifant bestorm, so natuurlik was ek bang, maar dis asof dit ‘n goeie bang was. Skepties, na my man soos gewoonlik eerste gegaan het (onthou hy dra ook maar altyd die flits en loop voor as dit kom by sulke goed) stap ek nader en sit ek my hand op haar oor, haar wang, haar lyf. Altyd bewus van die groot gewimperde oë wat soos sy smul aan die pellets wat Mac haar gee, my steeds dophou, maar sy is rustig en kan ek my verloor in die hitte van haar oor, en die growwe droë modder op haar vel, waarskynlik van waar sy probeer afkoel het die vorige dag.

Dan kry ons weer geleentheid om aan haar slurp te vat, ‘n slurp so dik soos ek self, waarmee sy saggies elke kleine pellet van die grond af optel, sonder moeite. Ek wou nie hê die oomblik moet eindig nie en kon ek in my man se oë sien hy het ook ‘n emotionele band gevorm. “Hierdie was my lewens droom,” sê die een dame vir my soos ons begin terugbeweeg en besef ek dat hierdie groot olifant, met die Meg Ryan rolprent naam, het meer as net een persoon aangeraak vandag. En so het elkeen van die ander olifante ook met die res van die groep, of dit nou Sally, Mashudu, Bonnie, Shungu of enige een van die 7 olifante wat tans by die park bly was. En dit is die belangrikste vorm van konservasie en navorsing, om in te lig, om die kans te gee om te interact en om mense lief te maak vir diere wat ons kan help beskerm.

Ek hoop jul gaan ontmoet hierdie grootvoete en het jul eie Dalene Matthee experience!

Tot ons volgende avontuur...
LMH


Thursday, March 2, 2017

Groot Voël Paradys - Cango Volstruis Plaas, Oudtshoorn

Volstruise (Foto LMH)
Met bewerking van volstruis vere wat sedert 1870 begin het in die Klein Karoo en invoer en uitvoer gestrek het van die lokale verestofverskaffers na karnivalle in Brasil, waarby 1.3 ton vere vanuit die Klein Karoo dorp verskaf was. 1.3 ton vere! 

Tiener Struisies (Foto LMH)
Omdat ons meer wou weet oor die begin en bedryf van volstruis, het ons na die Cango Volstruis Plaas (Cango Ostrich Farm) gegaan om meer te leer. Daar het ‘n vriendelike gids ons verwelkom en meer vertel oor die oorsprong van die volstruis bedryf.

Nou vir my persoonlik is dit ‘n worsteling, want ek kan nie self besluit of ek dink ‘n volstruis is ‘n mooi dier of net ‘n vreemde dier nie. Hul is massief groot, en die grootste voël wat nie kan vlieg nie (tweede die emu). Hul is ook een van die vinnigste twee been diere in die wêreld en sal met gemak mens kan inhardloop. So hul is vinnig, hul is vreemd, hul is groot… maar beleikbaar is hul vreeslik dom…

Ons gids verduidelik vir ons dat ‘n volstruis, amper soos ‘n goudvissie, nie onthou vermoë handhaaf nie, dus is hul 20gram brein slegs ingestel op instink. Hul oë, groot donker mascara ogies, is groter as hul klein breintjie, en daarom kan mens nie ‘n volstruis mak maak nie. Dit is wel in hul natuurlike geaardheid om buite paar seisoen so vriendelik te wees dat mens beina met hul kan toor.

Sak oor kop en niemand kan hom sien (Foto LMH)
En toor bedoel ek werklik, want volstruis se storie van sy kop in die grond druk is nie waar nie, maar as jy sy groot oë toemaak, glo hy met alles in sy wese dat jy hom nie kan sien nie. Jy kan hom nie sien, en hy kan jou nie sien en daarom dink hy hy is veilig. 

By die volstruis plaas leer ons oor hul mobiliteit, die verskil tussen hul en die meer aggresiewe emu, hul kamofleering (mannetjies is swart vir nag kamofleering en wyfies grys vir dag kamofleering) en oor die broei proses.



Adam en al sy kinders (Foto LMH)
Daar ontmoet ons dan ook vir Adam en Eva, die broei paar en so te sê surrogate ouers vir al die broei eiers van die plaas. Hier word die klein oulike, geveerde voëltjies geleer hoe om volstruise te wees. Adam en Eva leer hul instink voordat hul dan na ander dele versprei word of verkoop word.

Ons het so baie geleer by die volstruisplaas, met feite en inligting dat ek amper voel of ek ‘n skool projek nou hier uittik, maar mens kan nie help om die vreemdheid en fantastiese neigings en natuur van hierdie groot voëls te bewonder nie. Eiers wat 24 hoender eiers ewenaar, wat as gekook 2 en half ure sou neem, wat die weerstand van ‘n man (en vrou) se gewig kan handhaaf, maar tog net ‘n klein pik van die kuikentjie vat om hom oop te breek.

Een ding weet ek wel, volstruise het lelike tone. Twee groot gevaarlike tone en toonnaels aan elke poot, en kan mens wel seer as nie dood skop. Maar hierdie is die mees bruikbare dier met 98% van hul in geheel weer werkbaar in die ekonomie. Vere, leer, vleis, bene, alles word verwerk, behalwe hul oë en die piepklein brein.

Maskara ogies (Foto LMH)
So ja, hierdie is vreemde voëls, maar hul is fantasties. ‘n Regte natuurlike waarneming en wonderwerk. Interesant en baie insiggewend. Ek sou ‘n toer by die Cango Ostrich Farm aan almal toewens. Jy kan baie leer, baie sien, volstruise voer, en die braaf kan selfs 'n massage van hul af kry. So wanneer jy weer in die hitte van die dag sit en wonder, gaan loer na die groot oog struisies van Cango, hulle sal jou dag maak!

Tot die volgende avontuur…


LMH

Saturday, February 4, 2017

Feëtjieland op ons drimpel: Woodville Woud en sy Groot Boom

Ek is baie lief vir die natuur en alles daarin, diere, plante en omgewing. Om die woude wat vlak teen die tuinroete lê te gaan verken maak my altyd glo in iets groter en op die selfde tyd voel ek of ek deel is van een van Dalene Matthee se bosboeke of ‘n tiepe van feëtjie land.  
Big Tree aanwysing (Foto LMH)

Wanneer ‘n mens die pad na Hoekwill neem naby Wildernis kom mens by Woodville uit. Woodville is deel van SanParks en spog met sy eie groot boom. Die stap na die Grootboom wys klein piekniek areas waar mens kan afsluit van die stad se geraas en spoed en stadig wegsluimer in die natuur, met voël klanke en die sagte gesuis van ‘n briesie deur die blare van die hoë bome om jou. 

Woodville Groot Boom (Foto LMH)
Die Woodville Groot Boom is ‘n geelhoutboom, waarskynlik al 850 jaar oud en pronk soos ‘n groot trots slegs 800m van die parkeer terein. Die Podocarpus Falcatus soos die naam bord wys, staan 33m hoog met sy takke en blare ‘n 34m kroon bo-oor die woud se kapsel. Die boom dra steeds vrug wat deur vlermuise, voëls en bosvarke geeet word. Voëls maak nes in die aktiewe kroon van die boom en word hierdie geelhout soos ander deur die Nationale Boswet beskerm en kan nie soos ander bome van vroër jare gebruik word vir meubels en seilskepe nie.

Hier kan mens figuurlik verdwaal in die mooiheid van di die woud, maar gelukkig nie letterlik nie. Voetpaaitjies is duidelik uitgemerk vir ‘n sirkel staptog van 2km deur die bos wat omtrent 60 minute neem as jy rustig stap. Ons natuurlik het amper twee ure gestap omdat ek en my kamera amper elke wilde sampioen of krullende varingblaar wou afneem. 

Prag varings (Foto LMH)
Daar is baie mense wat die roete ook stap en kort kort is iemand verby ons. ‘n Groep buitelandse toeriste het so draft sap verby ons gekom, koppe gebuig om hul voete dop te hou en te kyk waar hul loop, en ek moes myself keer om nie agter na te skree: “kyk op! kyk wat jul mis!” Maar vir hul is die stappie net nog iets om oor te gan spog by hul families om te sê hul het dit gedoen, maar wie gee om as jy nie eers na die mooiheid van die woud oplet nie.  

Die bome vorm ‘n tiepe van ‘n kap bo jou en kan mens die blou lug hier en daar gewaar, asof die bome jou self van die buitelig beskerm.  Mens voel opreg op jy in feetjieland is, met hordes verskeie sampoeine en paddastoele waarop die feëtjies kan sit en rus, en uitgeholde bome wat kabouters kan huisves, strome riviertjies wat koelheid bied en hoë bome met dik varings waar diere in kan wegskuil. Die woud maak mens rustig en is die beste terapie wat natuur kan offer.

Verskeie wilde sampioene en paddastoele spog in die woud (Fotos: LMH)
Die Woodville woud se stappie na hul Grootboom is die moeite werd en sale k dit aan bevel aan almal. Breek weg van die “hussle and busle” van die stad en gaan verloor jouself in die woud. Dit is goed vir jou siel.

So, trek jou stapskoene aan en geniet dit!

Tot ons volgende avontuur…
LMH


Thursday, February 2, 2017

Lekker lekker by Pili Pili op Sedgefield

Nie almal weet van Sedgefield se asemrowende strande nie, vir baie is hierdie dorpie slegs ‘n drive-through in die tuinroete. Dis ook hoekom min mense weet van die amazing restaurant wat snoesig in die duine van Sedgefield lê, en dis ook hoekom mens aangenaam verras is met hoe lekker hierdie gesellige, tongknopende restaurant, Pili Pili is.

Gesellig en gemaklik by Pili Pili op Sedgefield (Fotos LMH)
Pili, soos hul menu verduidelik is die Swahili word vir pepper, dus is hul naam letterlik Pepper Pepper, maar stem ek saam klink Pili Pili baie cooler. En met hierdie surf style, rustige restaurant moet mens cool voel.

Die vloer is seesand, en jy kan lekker jou tone in die sand krul terwyl jy aan een van hul cocktails sit en smul. Die boma braai en pizza oonde maak vir ‘n gesellige atmosfeer en is dit ‘n lekker kuier plekkie vir middagete, skemer kelkies of aandete. Hul bedien pizzas vars uit die buite pizza oonde en die kelners is baie vriendelik. Pizza is definitief hul forte en sal ek nie enige iets anders daar aanbeveel nie.

Muurskildery in Pili Pili (Foto LMH)
Pili Pili sit teen ‘n sandduin vlak by die see, maar is beskud teen wind en son, mens hoor darem wel die branders breek, al kan jy dit nie sien. Dit voel soos vakansie hier, of jy nou op ’n Desember vakansie besoek, of sommer net ‘n naweek se deurry het. Dit is die perfekte plek om te kuier, jou tone in die sand te druk, pizza te eet en te ontspan.

Besoek hul in Witsand, Sedgefield of kontak hul gerus deur Facebook, of hul webblad; www.pilipili.co.za

Hoop jul geniet die seesand tussen jul tone!

Tot ons volgende avontuur…

LMH

Moderne Meerminne: Wateroefeing Klasse op Groot Brak

As dit kom by oefen is ek nie altyd voor in die ry nie, en verkies ek ‘n rustiger vorm van fiksheid. Toe ek hoor van Groot Brak Aqua Aerobics was ek nogals nuuskierig, want waterfiksheid is soos swem, en in die hitte van die Tuinroete is niks lekkerder as ‘n swembad nie.

Carrie van Wyk, stigter van Groot Brak Aqua Aerobics, het my vriendelik by haar voordeur verwelkom toe ek in die hitte van die dag by hul kleinhoewe op die R102 by die Jonqua afdraai opdaag. Niksvermoedend wou ek in hul pragtige, diep steen-swembad spring, maar het ek myself in toom gehou en haar begin uitvrae oor die ideë van die klasse. 

Klasse met die beste uitsig (Foto LMH)
Toe Carrie hul eerste seun verwag het sy die kwalifikasie gedoen om hierdie klasse aan te bied, kort daarna is haar tweede seun ook gebore en daarna het die bou van hul familie huis op die kleinhoewe belangriker gevoel. Maar nou, met die huis gevestig, die seuns rustig en die kalmte van die Outeniqua voor haar stoep, het sy besluit om dit volstoom aan te durf en die klasse aan ander te offer. Jy kan in haar stemtoon hoor hoe passievol sy is terwyl sy my vertel van haar planne om later ook lidmaat van die Water & Fitness Association te word.

‘n Groep dames arriveer en ons almal gesels asof ons mekaar langer as net 10 minute ken. Daar word gelag, gegiggel en sonder enige ongemaklikeheid is almal reg vir die swembad. Ek vra uit oor die idee van fiksheid in ‘n swembad en Carrie antwoord met ‘n glimlag, “Even in the pool you can work up a sweat, if done correctly.” 

Die atmosfeer is so asemrowend soos die uitsig. Die 2m diep swembad biet gemaklike dryfvermoë, en poolnoodles vervang die ideë van handgewigte. Klasse is een uur lank, met ‘n warm up and cool down, soos Carrie verduidelik.

Lekkerste lekker! (Foto LMH)
Met gym fooie tans so hoog, was ek verbaas dat Carrie se klasse slegs R20 per les of R150 vir ‘n maand is. Met klasse elke Dinsdag en Donderdag oggend (10h00 of 11h00). En die eerste klas is nog boonop verniet! Besprekings is wel nodig en kan jy haar kontak op 082 718 5421 of epos grootbrakaqua@gmail.com

Carrie skep ‘n atmosfeer waar jy oefen en fiks word sonder dat jy eintelik dit agterkom, mens lag en speel en voel nie asof jy deur ‘n weermaggeneraal gedril word nie. Hierdie is die lekkerste tiepe fiksheid oefeninge en ek sal die Groot Brak Aqua Aerobics klasse aan almal voorstel. Jonk, oud, groot, klein, dis vir elke vrou! So volgende keer as jy die Cadbury slab van R14, of die Coke van R15 wil aanskaf, onthou dat jy vir slegs R20 ‘n waterklas kan neem en jouself meer kan geniet as net op die bank lê.

Splish, splash en my storie is weg, ek hoop om almal by die klasse te sien!

Tot ons volgende avontuur,
LMH