Thursday, January 11, 2018

Op Wit & Swart – My Lemur Ervaring – Cango Wildlife Ranch (Oudtshoorn)


Cango Wildlife Ranch op Oudtshoorn is vining besig om een van my gunsteling plekke te word, die atmosfeer is altyd lekker, en elke keer as ek daar kom, leer ek iets nuuts. Hul fasiliteit se uitleg maak vir ‘n lekker avontuur en kan jy jouself ure lank hier geniet.

Hierdie keer het ons besluit om ‘n Animal Encounter te doen. Alhoewel daar ope lug aktiwiteite is wat gratis is, soos die voëltjies voer met nektar, tussen die wallabies deurloop en natuurlik die flying foxes (dis nou massiewe vlermuise) – kan mens ook encounters doen teen ‘n fooi wat vir die bewaring van diere bydra. Hierdie wissel van duik met krokodille, interaksie met slange en ‘n tegu (die grootste akkedis spesie op aarde), sowel as jagluiperd (cheetah) en serval ervarings.

(Lees hier meer oor die ervarings aangebied: https://www.cango.co.za/pages/unique-attractions/)


Swart & wit lemur (Foto: Cango)
Ons het besluit op die oulike wit en swart primate wat die liedjie “I like to Move it, Move It” in die fliek Madagascar in ons koppe laas vashak het – ‘n interaktiewe lemur ervaring!

Cango Wildlife Ranch spog op hul webtuiste dat hul die eerste in Suid Afrika is wat hierdie interaktiewe lemur ervaring aanbied, en met goeie reg. Die lemur area is finominaal. Met groot plantegroei om die Madagaskar bos uit te beeld, ‘n klein bruggie en self ‘n minatuur waterval. Op aankoms word jy goed ingelig deur die vriendelike vrywilligers oor die veiligheid van nie net jouself nie, maar asook die diere. Hierdie bevestig die bewarings belofte wat Cango Wildlife op strewe, die belang van die diere kom eerste. Saniteering van skoene en hande, reëls, regulasies en basiese inligting word aan jou verduidelik.

Lekker klim en klouter (Foto: Cango)
Cango Wildlife Ranch het drie spesies van lemurs wat hul aanhou: ringsterte, wit en swart ruffs asook die bruin lemur.  En hoewel al drie spesies opelik tussen jou deur loop en klouter, kom sit die wit en swart lemurs vrylik op jou skoot, selfs jou kop, om heerlike vars vrugte bederfies te kry en te pronk vir die kamera. (Vrywilligers neem fotos van elke ervaring wat teen billike prys dan by die kiosk gekoop kan word, of self gedruk kan word op enige iets van papier tot handsak of t-hemp).

Elke person was op beurt toegelaat om te sit dat die lemurs jou benader, en met my beurt, en eerste aanraking, was ek verlief op die oranje ogies en klein sagte handjies van die lemurs. So mooi diertjie met sy wit en swart pels en klein mond, wat heerlik smul aan vars vrugte. Dis is met hartseer dat mens hoor hul word juis vir hul pels en pootjies uitgebuit en daarom is dit belangrik dat die bewaring van die spesies behou word deur plekke soos Cango Wildlife Ranch wat ook saam met die Madagascar Fauna Group werk.

Die inligting aan ons vrylik geoffer oor die wit en swart lemurs was nie net interesant nie, maar ook baie insiggewend. Die vrywilligers jaag jou nie aan nie, en dis gemaklik om vrae te vra terwyl jy jouself met die lemurs geniet. Nêrens sal mens ooit so geleentheid kry nie, en jy kan nie help om te glimlag met die uitloop nie. Hierdie klein primate kruip dadelik in jou hart in!

Die lemur encounter kos tans R230 en is die moeite werd. Cango Wildlife Ranch het ‘n goeie prys op jaarlikse toegang kaartjies, en kan ‘n mens gerus hierdie pakket neem, al besoek jy die ranch slegs twee of drie keer ‘n jaar, is dit die beste besparing opsie.

Volgende keer waag ons dalk net die waters met die krokodille…. Miskien.

Tot ‘n volgende avontuur….

LMH

Friday, July 7, 2017

Warmwaterberg Spa – Barrydale se Wonder Waters


Weg gesteek in die hart van die Karoo op die R62 tussen Barrydale en Ladismith lê ‘n betowerende warm water bron,  Warmwaterberg Spa. ‘n Onophoudelike bron vars natuurlike warm water wat al sedert 1886 vloei en minerale magtigheid nog vêr vroeër gebied het.

Ek het in die Oos Kaap groot geword en nie ondervinding van warm water bronne gehad nie, maar my man en sy familie het gereeld in die Transvaal sulke bronne besoek en natuurlik moes hy vir my die wetenskaplike verduideliking gee oor hoe hierdie warm water so onophouend vloei en kon bestaan. Van lava en onder aardse verhitting, tegtoniese plate en ondergrondse water opgaring kon ek mooi verstaan, maar ek hou vol – dit is wat dit is – ‘n asemrowende wonderwerk.

Vir meer as 130 jaar is hierdie plaas, oorspronklik ‘n skaapboerdery, in dieselfde familie se naam en is die wonder waters oorspronklik deur plaaslike mense gebruik in die historiese badhuise vir gesondheidsdoeleindes. Met my ekseem-proon vel en skeptiese denke het ek ingestem vir ‘n naweek by die boere spa en was ek verbaas met baie meer as net die goegrafie.

Warmwaterberg Spa bied verskeie akkomodasies aan van kampeer na karivaan, self-sorg eenhede en verblyf in die Whittingdale huise. Daar is ook hout chalets en kamers te huur in die hoofhuis wat oorspronklik in 1908 gebou is en is steeds soos die huis oorsproklik was in daardie jare.
Die wam swembaddens by Warmwaterberg Spa (Fotos LMH)
Maar die belangrikste is die baddens. Op die terrein is daar drie groot swembaddens. Twee warm, natuurlike water en een koue swembad. Laas genoemde is ideal vir die somer, omdat dit tot en met 40 grade kan styg in temperatuur, maar nog meer betowerend is dat die warm water bron tot en met 44 grade by die oorsprong handhaaf. Behalwe vir die koue swembad is daar geen koue water op die plaas nie. Krane, wanneer oopgemaak, raak vining warm en stroom die minerale water uit soos manna uit die hemel, of grond in hierdie geval.

My gunsteling aantrekking is die ‘Roman Baths’, twee private baddens wat met vier trappies in die vloer ingesink is en 1000 liter water behou. Die bad is groot genoeg vir 6 mense, maar ek stel voor gaan alleen en voel hoe jy gewigloos kan dryf in ‘n warm bad vol water. Dit het selfs my stubborn vel so sag soos nooit te vore gemaak en kon ek nie help skuldig voel, met waterbeperkings wat in die Wes Kaap aangedryf is, dat ek behoorlik soos ‘n seekoei in my eie miniatuur dam dryf nie.
Die beeldskone landskap wat strek langs die R62 (Foto LMH)

Vir die wat nie heel dag of nag in een van die swembaddens wil ontspan nie, is daar baie staproetes om die plaas om te voet aan te pak. Beeldskone heuwels, geografiese grondbarsting en diere soos springhase, steenbok en springbok is te sien. Ek weet nie of die waters geneesend is of wonderwerke kan verrig nie, maar die area is wonderwerklik beeldskoon, stil en kan mens die gedruis van die stadslewe nie eens onthou nie.

Mooiste poue (Foto LMH)
Soos altyd is my twee gunsteling diere die hoof besoekers aan ons kampplek gewees: wilde katte wat hul lywe kom warm hou het onder ons vuurmaak plek in die koue wintersnag en poue wat blou geglins het in die oggend sonlig terwyl hul wag vir hul krummels. (Hul weet seker ek ken vir Katrien – sien my blog oor George Oord van 2016).

Watermwaterberg Spa het baie vining ‘n gunsteling vir my geword en sal ek definitief weer teruggaan om meer oor hierdie historiese plaas en sy wonderwaters te gaan leer. En natuurlik myself weer in die Roman Baths te submerge.

So onthou om op die R62, net na die gewilde Ronnies, op die grondpad aftedraai en die wonderwaters te gaan soek, al is dit net as dagbesoeker, onthou net jou handoek!
Altyd mooi - 'n grondpad, landskap en 'n winpomp wat soos ons eie boere-eifel toing uitstaan! (foto LMH)
Tot ons volgende avontuur…

LMH

Tuesday, June 13, 2017

Tradouw Pass - Die pad van alwyn prag

Tradouw Pass (Foto LMH)
Die Tradouw Pass (R324) is 'n 16km geteerde pad wat Swellendam en Barrydale koppel. Die naam Tradouw het ontstaan uit die ou Khoi taal en beteken, rofweg vertaal 'Die pad van die Vrouens'.


Hierdie is werklik een van die mooiste passe wat ek al gery het op ons avonture. Die draaie is haarfyn, maar mooi, met gereelde aftrek plekkies oral teen sy ruggraat op. Daar is baie vars water watervaleltjies wat reg teen die teerpad loop en kan mens stop by Piekniekbos of Drupkelder om die prag van die area mooier te bekyk.

Daar is selfs op plekke geute opgerig om die vars water te begelei sodat jy self jou bottle kan volmaak, met vars, yskoue bergwater, direk van die spruit.

Die pas is in 1873 al geopen, en toe vanaf 1974 - 1980 herbou, om die hele pass te teer en mooier te maak, hoe... hul het volgens SA Mountain Passes, meer as 4000 alwyne geplant en 2500 bome, iets wat vandag baie mooi vertoon soos jy deur die klowe ry.

Watervalle en spruite op die Tradouw Pass (Fotos LMH)
By ver een van die mooiste passe om te ry, en die gemaklikste van baie. (Al bly die Outenqiua Pas my gunsteling, omdat ek aan haar voet bly!)

Ry veilig, tot ons volgende avontuur!

LMH

Friday, June 9, 2017

Knysna / Plettenbergbaai Vure - en die hartseer wat dit bring



Die vure in Knynsa, Plett en omringende gebiede los my sonder woorde en is hartsroerend! My gedagtes en gebede gaan uit aan die mense wat huise en geliefdes verloor het.
Ook aan die volunteers wat dag en nag help.
Die liefde wat ons prag area ontvang maak my hart bly.
#grondpaddromers #knysnafire #tuinroete

Vir altyd trots om in hierdie mooi area te bly en ek weet die groen gras sal onder die swart as uitkom!

Liefde vanaf die grondpad....

LMH

Tuesday, May 30, 2017

Vrye Veer - Birds of Eden Heiligdom

Van buite, op die grondpad na die ingang, kan mens die verskillende roepe van die voëls in die massiewe twee hektar groot aviary hoor, asof jy naby 'n reënwoud kan wees, sou ek my verbeel. Ons maak toe ons pad na die ingang via hul curio winkel en bevind ons in 'n paradys van voëls...


Loeries kom sit naby vir smull vrugte (Foto LMH)
Birds of Eden net buite Plettenbergbaai is 'n reuse onderdak aviary waar meer as 200 spesie voëls hulself bevind. Deur twee hout deure bevind jy jouself in 'n droomland vol reuse bome, houtpaadjies, hangbrug en voëls wat vrylik bo jou rond vlieg. Dis binne minute wat ons die growwe Loerie reeds hoor skree en kan ons ons opgewondenheid nie keer.

Nou moet ek bieg, ons is nie voëlkenners nie, en besit nie 'n boek oor watter voël waar voorkom en is nie van plan om 'n Big Year te doen nie, maar ons sal wel tot stilstand kom vir 'n valk langs die hoofpad, of uile soek wat buite ons woonstel saggies roep in die nag. So gesê kan ons genoeg spesies self uitken en is puik Googlers, so ons was opgewonde om die voël paradys te sien waarvan almal so praat.

Ons was aangenaam verras met wat ons ingewag het, met die eerte paar tree het die fisante om ons voete gespartel en die Loeries hard geroep by vars bakke wate en vrugte wat die personeel vir hul uitgelê het. Kompleet met 'n water stroom en waterval wat saggies druis soos mens oor die hout planke loop deur die oerwoud van bome en blare.

Blou duikertjies loop rustig rond (Foto LMH)
Tussen die geskarrel van grond voëls het ons ook baie blou duikertjies gewaar en het hul ons harte gesteel. Bo in die kap van die bome hang daar ook groot vlermuise wat kamermaats vir die voëls is. Soos mens opkyk na die aviary se dak kan mens die blou Macaws sien rond vlieg, gepaart met duiwe en parakeet. Klanke van voëls omring mens is voel mens of jy in die oerwoud van Rio is, presies soos daardie kinderfliek, sonder al die Samba.

Daar is 'n dammetjie waar eende hul vermaak met swanne, en grasvelde waar bloukraanvoëls nostalgies smul. Rooi flaminke, met hul supermodel lang bene loop reg langs jou, min gespin oor wie jy is. Swane, eende, hornbills.... Vere, vlerke, kuikens.... Swemmend, stappend, vliegend.... Die voëls omring mens, en is dit 'n absolute fees van vlerke!

Verskeie voëls kom te sien by Birds of Eden (Fotos LMH)

Ek was nog nooit so geintereseerd en omgeslaan deur die mooiheid van geveerde spesies nie, maar hier, by die pragtige Birds of Eden het ek my hoed afgehaal vir die bewaring, rehabilitasie en inligting wat die aviary en sy diere bied aan die publiek.

Ek sal die ervaring aan elk een voorstel, dit is werklik merkwaardig en die prys werd. Hier sou ek ure lank kon rond wandel en selfs net rustig sit en kyk hoe die voëls my en mekaar vermaak.

'n Fantastiese, vol vere, ervaring!

Tot die volgende avontuur...
LMH

Monday, April 24, 2017

Knysna Olifant Park en hul Grootvoete



“You know… they say an elephant never forgets. What they don’t tell you is, you never forget an elephant.” Bill Murray (Larger Than Life-movie).

Knysna olifant Park (Foto LMH)
Hierdie is die aanhaling by die ingang van die Indlovu Café by die Knysna Olifant Park, 9km vanaf Plettenbergbaai op die N2 na Knysna. ‘n Aanhaling wat die ondervinding by Knysna Olifant Park perfek beskryf. So hierdie is my storie van hoe ‘n een tand matriarch my aangeraak het in meer as net ‘n fisiese form…

As voormalige Baaienaars (Port Elizabeth) is ek en my man albei gereeld op avonture na Addo Nationale Olifant Park, dit was op die drumpel van die Baai en iets wat ons gereeld gedoen het. En soos Dalene Matthee hul genoem het in Kringe in die Bos, het ons van daar af verlief geraak op die grootvoete. Diere met die grootste lywe, maar nie lomp. Groot families, maar steeds gekonnekteer. Stil, sterk, met gewimperde oë wat lyk asof hul alles kan sien, en groot ore, want ons weet hul hoor alles.


Die Knysna Park se grootvoete (Foto LMH)
Die verskil tussen wat ons van olifante op Addo ondervind het, was dat daar altyd iets tussen ons en die olifante was, en ons hierdie wilde diere slegs deur ons motorvensters kon gewaar. Dus was ons nog altyd geintereseerd in Knysna Olifant Park waar hul “extraordinary elephant encounters” adverteer. Die kans om hierdie magtige diere nie net van nader te beskou nie nie, maar om hul te voer en aan te raak. ‘n Lewenslange droom vir baie, en definitief vir ons ook.  So op een Saterdagoggend, omdat ons nou op die drumpel van Knysna bly, het ons besluit om die grootvoete te gaan besoek, ons eie Saul Barnard ondervinding te hê en ons lewenslange droom te bewaarheid.

 ‘n Kort grondpad van die N2 af bevind ons onself by die Knysna Olifant Park. By ontvangs kan mens ‘n wit emmertjie propvol pampoen, skorsies, wortels en beet aankoop vir R45, maar hierdie is nie deel van die ontbyt spyskaart nie, hierdie vars lekkernye is vir die olifante, en wys reeds watter sorg hierdie park aan hul diere offer, my man het selfs gegrap dat hierdie groente varser as ons lokale supermark se groente was!
 
Terwyl ons wag vir ons gids en die toer om te begin, is daar in die video sentrum ‘n kort documenter oor die begin van die park, wat reeds in 1994 begin is deur Ian en Lisette Withers met slegs twee klein olifant kalfies wat uit culling in die Kruger Wildtuin gered is en gerehibaliteer moes word. Die eerste oliante is benaamd Harry en Sally, en so het die Knysna Olifant Park ontstaan.

Harry en Sally het ‘n belangrike rol gespeel in die vooruitsig van die rehabilitasie van olifante asook die verkenning van die spesie, met besoekers wat na die park asook met Harry wat selfs skole besoek het. Nie net dit, maar die groot Harry het selfs in 2003 ‘n filmrol saam met Patrrick Swayze gehad in King Solomons Mines wat hier in SA geskiet is. Sedert daardie jare het die park gegroei, met olifante wat kom en gaan, en so is Harry ook weg na die Plettenbergbaai Wilds Park om by ‘n bestaande groep olifante aan te sluit.
 
Netjies wag hul vir hul smulhede (Foto LMH)
Na die video is ons begelei na die slaap area van die olifante, en die groot groen velde van die Park waar jy per trekmotor gelei word na die ondervinding wat jou hart laat klop en jou soos ‘n kind op Kersfees laat voel.

Netjies agter ‘n reeling, in ‘n ry, soos hul vermoedelik opgelei is, staan die reuse diere vriendelik, rustig en verwagtend vir die lekkernye in die wit emmers wat ons en die toeriste aandra. Saggies neem hul die kos uit jou hand uit, met die growwe hare van hul slurp vreemd op mens se hand, staan mens eintelik in verbassing met hoe rustig en goed gemanierd hierdie groot diere is. Hul kan natuurlik hand uitruk, hul bly steeds wild en is natuurlik bewus van hul eie grootte, maar soos mens kan sien is die park goed vir hul en is hul so dankbaar vir die aandag, respek en natuurlik kos.

So kom ons by Sally, wat die eerste van die olifante in 1994 was en vandag in 2017, op die ouderdom van 28, die matriarch van die trop is, die so-genaamde “groot mamma”, al het sy self nog nie ‘n kleintjie gedra nie. Mac, ons toergids, wat ook sedert 1994 by die park is, vertel ons oor haar een vermiste ivoortand, so vanaf geboorte, weens generiese afwyking. Terwyl Mac praat, saggies en met respek vir die groot dier, kan ek nie help om verbasend te kyk hoe groot sy is nie. Ja ja, ek weet olifante is groot, maar om te gaan van TV of selfs in ‘n kar ry op Addo en om nou so sonder enige iets tussen ons voor hierdie dier te staan was asemrowend. Sally het my hart gesteel, daar en dan.
Sally en ons gids Mac, albei wonderlike siele (Foto LMH)

Ons is toe die geleentheid gegee om aan haar te raak. Nou kyk, ek het al baie National Geografic gekyk, en You Tube clips van “What happens next…” en is selfs op Addo op twee verskillende keure deur ‘n olifant bestorm, so natuurlik was ek bang, maar dis asof dit ‘n goeie bang was. Skepties, na my man soos gewoonlik eerste gegaan het (onthou hy dra ook maar altyd die flits en loop voor as dit kom by sulke goed) stap ek nader en sit ek my hand op haar oor, haar wang, haar lyf. Altyd bewus van die groot gewimperde oë wat soos sy smul aan die pellets wat Mac haar gee, my steeds dophou, maar sy is rustig en kan ek my verloor in die hitte van haar oor, en die growwe droë modder op haar vel, waarskynlik van waar sy probeer afkoel het die vorige dag.

Dan kry ons weer geleentheid om aan haar slurp te vat, ‘n slurp so dik soos ek self, waarmee sy saggies elke kleine pellet van die grond af optel, sonder moeite. Ek wou nie hê die oomblik moet eindig nie en kon ek in my man se oë sien hy het ook ‘n emotionele band gevorm. “Hierdie was my lewens droom,” sê die een dame vir my soos ons begin terugbeweeg en besef ek dat hierdie groot olifant, met die Meg Ryan rolprent naam, het meer as net een persoon aangeraak vandag. En so het elkeen van die ander olifante ook met die res van die groep, of dit nou Sally, Mashudu, Bonnie, Shungu of enige een van die 7 olifante wat tans by die park bly was. En dit is die belangrikste vorm van konservasie en navorsing, om in te lig, om die kans te gee om te interact en om mense lief te maak vir diere wat ons kan help beskerm.

Ek hoop jul gaan ontmoet hierdie grootvoete en het jul eie Dalene Matthee experience!

Tot ons volgende avontuur...
LMH


Thursday, March 2, 2017

Groot Voël Paradys - Cango Volstruis Plaas, Oudtshoorn

Volstruise (Foto LMH)
Met bewerking van volstruis vere wat sedert 1870 begin het in die Klein Karoo en invoer en uitvoer gestrek het van die lokale verestofverskaffers na karnivalle in Brasil, waarby 1.3 ton vere vanuit die Klein Karoo dorp verskaf was. 1.3 ton vere! 

Tiener Struisies (Foto LMH)
Omdat ons meer wou weet oor die begin en bedryf van volstruis, het ons na die Cango Volstruis Plaas (Cango Ostrich Farm) gegaan om meer te leer. Daar het ‘n vriendelike gids ons verwelkom en meer vertel oor die oorsprong van die volstruis bedryf.

Nou vir my persoonlik is dit ‘n worsteling, want ek kan nie self besluit of ek dink ‘n volstruis is ‘n mooi dier of net ‘n vreemde dier nie. Hul is massief groot, en die grootste voël wat nie kan vlieg nie (tweede die emu). Hul is ook een van die vinnigste twee been diere in die wêreld en sal met gemak mens kan inhardloop. So hul is vinnig, hul is vreemd, hul is groot… maar beleikbaar is hul vreeslik dom…

Ons gids verduidelik vir ons dat ‘n volstruis, amper soos ‘n goudvissie, nie onthou vermoë handhaaf nie, dus is hul 20gram brein slegs ingestel op instink. Hul oë, groot donker mascara ogies, is groter as hul klein breintjie, en daarom kan mens nie ‘n volstruis mak maak nie. Dit is wel in hul natuurlike geaardheid om buite paar seisoen so vriendelik te wees dat mens beina met hul kan toor.

Sak oor kop en niemand kan hom sien (Foto LMH)
En toor bedoel ek werklik, want volstruis se storie van sy kop in die grond druk is nie waar nie, maar as jy sy groot oë toemaak, glo hy met alles in sy wese dat jy hom nie kan sien nie. Jy kan hom nie sien, en hy kan jou nie sien en daarom dink hy hy is veilig. 

By die volstruis plaas leer ons oor hul mobiliteit, die verskil tussen hul en die meer aggresiewe emu, hul kamofleering (mannetjies is swart vir nag kamofleering en wyfies grys vir dag kamofleering) en oor die broei proses.



Adam en al sy kinders (Foto LMH)
Daar ontmoet ons dan ook vir Adam en Eva, die broei paar en so te sê surrogate ouers vir al die broei eiers van die plaas. Hier word die klein oulike, geveerde voëltjies geleer hoe om volstruise te wees. Adam en Eva leer hul instink voordat hul dan na ander dele versprei word of verkoop word.

Ons het so baie geleer by die volstruisplaas, met feite en inligting dat ek amper voel of ek ‘n skool projek nou hier uittik, maar mens kan nie help om die vreemdheid en fantastiese neigings en natuur van hierdie groot voëls te bewonder nie. Eiers wat 24 hoender eiers ewenaar, wat as gekook 2 en half ure sou neem, wat die weerstand van ‘n man (en vrou) se gewig kan handhaaf, maar tog net ‘n klein pik van die kuikentjie vat om hom oop te breek.

Een ding weet ek wel, volstruise het lelike tone. Twee groot gevaarlike tone en toonnaels aan elke poot, en kan mens wel seer as nie dood skop. Maar hierdie is die mees bruikbare dier met 98% van hul in geheel weer werkbaar in die ekonomie. Vere, leer, vleis, bene, alles word verwerk, behalwe hul oë en die piepklein brein.

Maskara ogies (Foto LMH)
So ja, hierdie is vreemde voëls, maar hul is fantasties. ‘n Regte natuurlike waarneming en wonderwerk. Interesant en baie insiggewend. Ek sou ‘n toer by die Cango Ostrich Farm aan almal toewens. Jy kan baie leer, baie sien, volstruise voer, en die braaf kan selfs 'n massage van hul af kry. So wanneer jy weer in die hitte van die dag sit en wonder, gaan loer na die groot oog struisies van Cango, hulle sal jou dag maak!

Tot die volgende avontuur…


LMH