Tuesday, December 20, 2016

George Oord – Die Suburban bliss van vakansieoorde

Dit is min dat mens vakansie akkomodasie vind wat jou laat voel dat jy op vakansie is en op dieselfde tyd soos huis voel. George Oord is juis net dit. Met gerieflike kamp spasie, karavaan staanplekke, enkelkamer en dubbelkamer chalets, is hierdie regtig ‘n lekker “home away from home”.


Chalet Nr 9 was ons tuise (Foto LMH)
Die chalet wat ons ingebly het was groot genoeg vir 6, met ‘n dubbelbed in hoofkamer, twee enkel beddens in die tweede en ‘n ‘sleepersofa’ in die TV kamer. Die chaltes het almal TV’s en DSTV (sodat mens nou nie verveeld is op die klein okkasies van reën nie) en die kombuise, al was hy klein, was gerieflik. Ek het net my oond gemis, aangesien ek lief is vir bak, en nog nie die twee plaat bak storie gemeester het nie.

Katrien die pou kom soek haar oggend krummels by ons voordeur
(Foto LMH)



Die oord het ook lekker eienskappe soos vriendelike werkers, gerieflike opruimspanne, ‘n swembad, tramolien en waskamer. Die waskamer het wasgoed doen vir my interesant gemaak omdat hul masjien soos ander laundromats coin operated was, en kon mens jouself verbeel jy is in ‘n Amerikaanse fliek of dalk was dit te veel DSTV. Andertye het ek die wasgoed ingegooi, my wekker op my selfoon gestel en saam met my man na die bosveld TV gekyk (dis nou die braaivuur).

Ek het maklik tuis gevoel tussen die lang bome, middag sonstrale wat deur die blare skyn en baie voëls om na te kyk en te luister. Daar was kort-kort ‘n Piet-my-Vrou wat roep-roep so met sonsondergang, eende wat waggel op perseel asof hulle die plek besit, selfs ‘n Loerie van tyd tot tyd het my oog gevang. Maar my gunsteling by ver is die groep van amper 10-12 poue wat hulself ook hier huisves. Ek het vining van hul begin hou, en hul het vining besef dat ek soggens vir hul krummels uitsit. So slim dat my man sommige oggende as ek laat sluimer my kom wakker maak met ‘n sarkastiese: “Jou kinders kom soek hulle kos.” Ek was vasbeslote dat ek met hul sou click en het my Disney Prinses titel geeis met die dat hul eventueel uit my hand geëet het.

Katrien se mooi man (Foto LMH)
Mens kan nie help om tog geheg te raak aan diere nie, en as jy soos ek is is die reël gewoonlik as hul ‘n naam kry, dan is dit verby. En so het ek dus vir Katrien ontmoet. Katrien was een van die grys vaal wyfie poue, met lang wimpers en was die eerste om uit my hand te peusel. Ons was onmiddelik maatjies. Sy het later ook haar man na ons gebring, die enigste pou met lang, flambojante vere, maar hy wou nie sy biscuit vir ons skut nie. Nietemin het ons wel elke oggend en elke aand lekker gekyk hoe hul saam drom op ons hout stoepie en toe ons vakansie tot einde kom, was ek inniglik hartseer om Katrien te verlaat, want sy het nie omgegee dat die mal tannie op die stoep wat so vrygewig krummels weggee met haar gesels nie.

Stoute apie (Foto LMH)


Wie ek nou wel nie meer vriende gemaak het nie is die apies. Vervetapies swaai soggens en saans deur die bome of soek na kos, maar as jy my vra soek hul net moeilikheid. En ek is 100% oortuig ek was geteiken, want hul het my brood gesteel wat vir de poue bedoel was, amper met ‘n koekiebak weggeglip, elke oggend moddervoetjiespore op my kar venster gelos en my waansinnig deur die take dopgehou. My man natuurlik het gedink ek is simpel, want al hierdie dinge het slegs gebeur wanneer hy nie by my was nie, en moes ek foto-evidence gee. Die apies is pragtig en oulik, maar ons het net nie gemeng nie. As hul op die stoep baljaar het ek maar eerder rustig gesit en Masterchef Australia kyk.

Die George oord is werklik baie gerieflik en lekker en met kamp plek en chalets beskikbaar is dit ‘n ideale ontspanning vir die familie. Dis ook gerieflik naby aan die Outeniqua Plaasmark (lees hier as jy my insetsel daaroorgemis het: http://grondpaddromers.blogspot.co.za/2016/11/outeniqua-plaasmark-n-naweek-gunsteling.html ) en ook Eden Meader Mall. Vic Baai is slegs 4km vanaf die oord met Wildernis ook net 7km weg.

Besoek gerus hul webblad www.georgeresort.co.za

Geniet die avontuur… passop net vir die apies!

LMH 

Tuesday, December 6, 2016

Outeniqua Vervoer Museum, George – Treine en Nostalgie

Die Outeniqua Vervoer Museum (Foto LMH)

Daar is iets omtrent treine en treinstasies wat my baie nostalgies maak. My oupa was ‘n stasiemeester en ek kan nie help om aan hom te dink as ek plekke soos die Transnet Outeniqua Vervoer Museum in George besoek nie. My oupa en my pa het ons baie stories vertel oor die doen en late van my oupa as stasiemeester. Ek onthou self ou familie films wat ons op projektors teen ‘n wit muur gewys het waar my oupa trots in sy donkerblou stasiemeester pak, met sy uniform hoed netjies aan, spoor toe loop om die aankomende trein verby te wys. 

Ek was definitief opgewonde oor my besoek na hierdie museum! Die museum bevat stoomlokomotiewe, ou karre en kan selfs “name-drop” met oud president Paul Kruger se lokomotief en ook die bekende 1947 Wit Trein waarop Queen Elizabeth Suid Afrika besoek het.

Met die aankoms is daar groot stoomlokomotiewe buite die perseel om na te kyk en lyk die museum self soos ‘n staats gebou, en met rede – die museum is gebou rondom die oorspronklike treinstasie en het selfs binne nog die oorspronklike spore, stasiehuis en vloerskaal.

Die Stormberg Lokomotief (Foto LMH)
Met die inkoms, nadat jy slegs R20 ingang betaal het (dis reg, slegs R20!) staan daar ‘n lokomotief genaamd Stormberg. ‘n Pragtige 100 jaar oue lokomotief. Die Stormberg het vanaf 1880 tot 1980 op die spoorweë tussen Oos-Londen en Queenstown gery. Vir party is dit dalk nie interesant nie, maar vir my was hierdie heel eerste lokomotief in die voorportaal waar my liefde vir die museum bevestig is, want dit sou beteken dat hierdie einste lokomotief in die jare 60’s en 70’s my oupa op daardie presiese roete verby sou vat waar hy op sy stasie op Amabilie gepronk het. Onmiddelik het ek soos ‘n klein dogtertjie gevoel ek kon ek nie wag om nog te sien nie!

 Met die deurloop van die museum is daar baie treine om na te kyk, elkeen met ‘n ander storie. Daar is selfs ‘n miniatuur treinkamer waar jy kan kyk hoe ‘n modeltrein kompleet met bome, huise en ‘n brug om sy spore wentel. Die detail van hierdie modelskaalse kunswerk is asemrowend.

Pres Kruger se trein (Foto LMH)
President Kruger se treinlokomotief en een van die kajuite is ook hier te sien. ‘n Luukse binnekant met leer banke, hout vesters en afrondings, selfs sy ou gramofoon plaat staan op die kajuit vloer in ‘n mooi hout kas wat ook ‘n knersiekas (drankkabinet) is.

In die middle van die museum is die ou stasiehuis waar mens die publieke telefoon (nou stokoud) en treinkaartjies kom aankoop. Asook die vloerskaal waar hul tasse en toerusting kon weeg. Die ou SAR kaartjiemasjien is bloedrooi geverf en is herstel na die oorspronklike prag. Daar pronk ook ‘n Nestle “vending machine” waar mens 1D (one dime) kon insluit vir ‘n sjokoladetjie. Met vandag se sjokolade prys kan mens dink hoekom hy nie meer werk nie.

Van die karre op uitstalling (Foto LMH)
Daarna bevind jy jouself in klassieke-motor-hemel vir die wat gons oor ou karre. Morris, Cadillac, Valiant en selfs ‘n VW Bus om my gunstelinge te noem. Duidelik is ek in die verkeerde era gebore, want hier het ek en my man ons self te veel geniet tussen die ou karre en ‘n treinstasie. Ons het hier ook een van die opsigters en vrywilligers ontmoet wat die museum behou en benut en gelukkige mense soos ons op private toere neem.

Die Wittrein, of gedeelte daarvan, word by die Outeniqua museum uitgestal en is vanaf die Britse koning en koningin se rein in 1947 toe hul Suid-Afrika kom besoek het. Hul het vanaf February tot April landwyd in hul eie spesiale wit trein gereis met hul twee dogters Margaret en Elizabeth – laasgenoemde wat nou die huidige koningin van Britanje is. Die Wittrein is nie oop vir die publiek by die museum nie, maar as jy mooi vra en iemand vriendelik daar ontmoet sal hul jou binne neem. En dit was ons geluk…

Die Wittrein (Foto LMH)
Die koningstrein is wit, vanselfsprekend soos die naam Wittrein, en netjies versorg deur die museum. Daar is baie detail aan die trein gegee, nie net vir museum vereistes nie, maar vanaf die bou van die trein vir die koninglike gebruik daarvan. Die trein is netjies en mens kan sien dat in 1947 hierdie definitief ‘n luukse trein was. Met hout afrondings, koper en silver versierings, spesial gedrukte spyskaaarte, en ‘n aanboord kombuis, was daar definitief nie hier afgerammel nie.

Prinses Margaret en Elizabeth (nou
koningin) op die Wittrein in 1947
(Foto Flickr)
Deel van die treinkajuituitstalling is destydse Prinses en nou Koningin Elizabeth se slaapkajuit. Met private badkamer. Dit lyk nie soos veel meer as ‘n normale treinkamer nie, maar verhitte spiëels, lugreguleering en knoppies om die knagte aanteroep spreek anders. Die belangrikste is dat ek in haar kajuit was, gesit het op stoele waar sy gesit het en vir ‘n spesiale oomblik self soos royalty gevoel. Nog meer interesant is dat die jonge prinses op haar toer deur SA haar 21ste verjaarsdag op hierdie einste trein sou vier.

Die museum maak mens nostalgies en trots oor die bevordering van Vervoer en spesifiek treine in SA. Met trein inspirasie, geskiedenis, tegnologie en verskeie meer interesanthede, kan ek nie anders as om mense aanteraai om te gaan kyk nie. Dit is werd die R20 ingang wat jy betaal en jy kan self ‘n koffie en lekkerny benut by hul koffiewinkel. Moedig jul vriende aan om hul kinders te neem, moedig jul ouers aan om ‘n “trip down memory lane” te neem, en gaan geniet die nostalgie van die Outeniqua Vervoer Museum. Glip sommer die 1991 treffer van Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock “Tussen Treine” in die CD speller oppad na die museum om jouself in die bui te kry!

Geniet die nostalgiese avontuur wat hier vir jou wag!


LMH

Nog fotos van binne die museum:
    

Wednesday, November 30, 2016

Kaai 4 met sy kwaai vuur – Mosselbaai

Foto LMH
Ek begin al dink amper elke grondpad avontuur lei na een of ander vorm van kos, maar dan onthou ek, almal moet tog eet – en hoekom dan nou nie by ‘n lekker gesellige plek met ‘n vuurwarm uitsig?

So kom ons toe by Kaai 4 wat in die Mosselbaai hawe gelee is. Kaai 4 is een van vele restaurante op die hawe tussen dollosse en seevoëls, maar is steeds by vêr my gunsteling. Die “ontvangs” en kombuis lyk nie soos veel van die buitekant, maar wanneer jy die restaurant betree vind jy jou sintuie neem heeltemal gelyktydig oor en moet jy sommer so op die grondpad ingang tot stilstand kom om alles in te neem.

Foto LMH
Wat jy sien is verskeie elemente wat die indruk skep dat hierdie seelangse restaurant verskeie treasures vanuit die see gewerf het en in hul opelug voorportaal uitgestalleer het. Skulpe, driftwood, bottles, blikkies, toue, ‘n halwe boot wat as rak dien en selfs ‘n blou haar meermin-mannekyn.  Die resturant self is verskeie hout tafels onder palm bedekte hutdakke met gemaklike rusbanke en boot décor waarby mens die somerson lekker kan geniet.

Wat jy hoor is die gesels van restaurant gangers, seevoels wat oordak vlieg, die sagte klap van die branders teen die dollosse en vae klanke van swemmers wat op Dias Strand baljaar. Wat jy ruik is die smulrook van ‘n groot braaivleisvuur wat in hul eie boma gemaak is, die reuk van varsgebakte roosterbrood is oorweldigend en mens kan eintelik die jam en botter proe soos jy daaraan dink. Die menu bestaan uit ‘n verskeidenheid Suid Afrikaanse lekkertes, en die reuk van marinade laat mens se mond dadelik water. Gelukkig is daar local craft bier om jou lus te les terwyl jou kos gemaak word.

Gesellige tafels met die boma in die agtergrond (Foto LMH)
Nadat jy jou bestelling by die kassier bestel het, en die baie vriendelike braaier ‘n paar grappe gemaak het, kan jy jou sonbril aansit en rustig verkeer met die uitsig van Mosselbaai se see voor jou met die Outeniqua berge in die verte. Met geleentheid is daar selfs dolfyne en robbe reg aan die voet van die hawe muur om jou te vermaak, en soos hul al vertel het was daar selfs walvisse spoeg naby om te bekyk.

Kaai 4 is die perfekte restaurant vir die generasies, dit is familie vriendelik, dit is romanties genoeg vir ‘n date night en dis cool genoeg vir die studente om lekker te kan kuier. Hier kan ek en my man ure verby sit en rondkyk terwyl die son sak oor die Dias Museum net agter Kaai 4.

Pragtige uitsigte met die
bergreeks in die agtergrond
(Foto LMH)
Ons het oorspronklik in 2015 op ons heuningmaan (wittebrood) die restaurant ontdek na ons perongeluk die verkeerde afdraai geneem het en in die haweparkering beland het, maar ek moedig jul aan – vat die verkeerde afdraai want hierdie restaurant op die grondpad van de hawe is die moeie werd.

Want elke avontuur begin met ‘n grondpad…
Lekker eet!

LMH





Monday, November 28, 2016

Big Blu Restaurant - Mosselbaai

Big Blu (Foto LMH)
Big Blu is ‘n restaurant in Mosselbaai by die Punt. Dit is net bo die Shark Lab en nadat jy hul besoek het en ondersteun het in hul navorsing, kan jy gerus inloer by Big Blu en ontspan soos geen ander restaurant kan offer nie.

Big Blu sit net bo die klippe en golwe van Mosselbaai Punt en bied die mees amazing uitsigte vir die wat daar inkom. Maar kom ons begin voor. Ingestap vind jy seesand vloere met cocktail tafels wat surfboars as “dakkies” het. Dit skep onmiddelik die gevoel van cool, strand en self ‘n tikkie oorseese invloed.

Swaaie by die kroeg met die mooiste mosaic (Foto LMH)
Daar is gemaklike banke by die eet tafels en by die kroeg met die mooiste skakerings van blou mosaic, kan jy terugsit, jou voete lig en…. swaai! Dis reg – sekere van hul stoele is briljant deur swaaie vervang. Met die inloop en die aansig van ‘n swaai, kikker dit die kind in enige iemand op en wil jy daarop sit! En dit is gemaklik! Slim plan, want so kan mens vir ure lank sit en swaai en kelkies geniet.

In die rook kamer, vir die van ons met slegte gewoontes, is daar ook swaaie, en enorme groot ottomans, waarop skuinslê na ‘n lekker maaltyd baie moontlik is. Behalwe vir kelkies en milkshakes, bied Big Blu ook ‘n groot verskeidenheid spyskaart items aan waarvan seekos, steak en kosmandjies alles benut kan word.

Wanneer jou bestelling geplaas is, jou kelkie in die hand is en jou agterstewe stewig op ‘n swaai is, kan jy gerus by die vensters uitstaar na die eindelos branders van Pinnacle Point en na regs die St Blaize ligtoring en grot bekyk. Daar is ook swemgate reg onder die restaurant, so vermaak is altyd byderhand terwyl jy self die moed bymekaar skraap om in te spring.

Swaai, uitsigte en seesand - hoe dan anders (Foto LMH)
Big Blu het nie net ‘n ongelooflike atmosfeer nie, maar dit is goed geleë in Mosselbaai, met asemrowende uitsigte, goeie kos, en het ek jul vertel van die swaaie….?




Big Blu lê geleë op ‘n teerpad en nie’n grondpad, maar wees gerus dat jy jou tone in hul seesand vloer kan indruk.

Geniet hierdie avontuur, soos ‘n kind op ‘n swaai….

LMH

Hop Vallei Plaas Stal – Die beste pizzas ooit!

Local pizza en local wyn - die beste kombinasie! (Foto LMH)
So 10km oor die Outeniqua pas vanaf George na Oudtshoorn is daar ‘n klein padstal. Druiwe rank oor die buitenste plafon, voëlverskrikkers op die stoep en natuurlik die eindelose karre wat almal daar is vir dieselfde rede as wat ons daar was: PIZZA!

Pizza is ‘n wêreldwye gunsteling, en by Hop is dit nog beter want dit word vars in hul oondgemaak terwyl jy vir jou ‘n bottle wyn of koeldrank by die winkel langsaan koop. Jy smul dan op die lekker pizza (Valley Harvest is my gunsteling!) onder ‘n afdak waar daar klomp plaaserige goedere pronk. Uitgedroogte mielies en druiweranke hang uit die plafon, gesegtes, en fotos van almal wat die plekkie al besoek het en die tafels is so gerangsik dat as jy nie met jou metgesel kan praat oor jou mond te vol is, is die tafel langsaan naby genoeg vir jul albei om afteluister.

Die Hop se pizzas kom in verskeindenheid, daar is vele keuses om van te kies, heel pizzas, of vir die vinnige verbyganger kan jy per slice koop. Maar moet jouself nie flous, ‘n slice, nie soos franchise slices wat so armoedig gesny word, is sowaar ‘n kwart van ‘n pizza!

Die atmosfeer is heerlik, die kos is nog beter, die mense is vriendelik – daar is net iets omtrent ‘n gedeelde liefde vir kos, dit is immers hoekom ons almal voor die klein cashiers tafeltjie brom – en ‘n Hop belewenis is die moeite werd as jy padlangs verbygaan.

Dit is nou wel nie ‘n grondpad nie, maar vir pizza, stop mens enige plek!

Smul op Hop se lekker pizzas, en laat die avontuur begin…

LMH