Thursday, March 19, 2020

'n Ander Tiepe Boeretroos - Silver Stallion

Nou kyk, daar is min dinge in die lewe wat my so gelukkig maak soos 'n lekker koppie boeretroos. Moca-chino, cappuccino, café latte... selfs net 'n gewone ou koffie gemaak met liefde - dis alles lekker! Koffie bokkie - right here!

So wanneer ek 'n voëltjie hoor fluit dat daar 'n lieflike klein café is wat jou foto op jou koffie druk - ja, jy't reggelees - dan moet mens mos nou gan kyk! En so vind ons Silver Stallion in Beaconbaai, Oos-Londen, waar die breë glimlag van die barista jou verwelkom, die aroma van koffie en die minimalistiese uitleg net genoeg is. Nog meer betowerend is dat Silver Stallion gelink is Truth Coffee - wat toevallig my gunsteling koffie winkel in Kaapstad is! Nou weet ek die koffie gan lekker wees, mar hoe presies gan my gesig op 'n cappuccino lyk...

Lo and behold - ek was nie teleurgestel nie! Jy kan of 'n foto daar neem, of een whatsapp - natuurlik kies ek die latter, want die kapsel is nie geborsel of gepoeier nie. En hier is die uitkoms...

Aitsa - Gesiggie op koffie - Silver Stallion (Foto LM)
Grondpad Dromers - die latte version! (Foto CD)
Ek was so impressed! Wow! My koffie is warm, al is dit opgeprint, my reuksintuig is geprikkel en kyk net hoe oulik lyk ek in koffie! Seker 'n miljoen werd die ou ding, maar nee - die gedrukte personlised koffie is niks meer as jou standard rate koffie nie. So natuurlik moes ons toe ook die Grondpad Dromers logo probeer. Baie impressive Silver Stallion - ek en my geprinte voorkoms sien jul binnekort weer!

Volg gerus Silver Stallion op Facebook: https://www.facebook.com/silverstallionthreads/
Of vind hul in die Beaconbaai Crossings Komplek, in Oos-Londen.

Tot ons volgende avontuur, en koppie boeretroos...

LM

Monday, March 2, 2020

Natuur, Kampvure en Olifante - Addo Olifant Park


Hierdie park is al jare deel van my gunsteling wegbreek plekke. Addo Olifant Park is 52 minute vanaf Port Elizabeth – naby genoeg om nie ongerieflik te wees nie, maar vêr genoeg om te voel asof jy behoorlik in die bosveld is.

Die museum/informasie sentrum by Main Camp is baie insiggewend - Addo (Foto LM)
Die kamp / verblyf geriewe is perfek, gemaklik, skoon en uit gekit met net wat nodig is. Die beste is snags hoor jy al die geluide wat goed is vir jou siel – die kraak van die braaivleis vuurtjie voor jou, die wilde honde wat stout oor die veld hardloop, die kampers langsaan wat vertel wat hul gesien het,  die dowwe gebrul van ‘n leeu in die verte - selfs die oom wat in die kampstaanplek langs jou lê en snork pla jou nie eens nie. Want die natuur en die Afrika gevoel sluk jou in sodra jy die park binne tree.  
Daar is twee hoof ingange van Addo wat ek gereeld gebruik, een deur die dorpie Addo, waar jy dan by die hoof kamp terrein begin, of deur Colchester, waar jy van die onderpunt af op ry tot bo in die park. Kampeer plek is beskikbaar by die hoof ingang (Addo dorp se kant), asook luukse safari tente, chalets ens.

Hier is die kostes verbonde, asook die bewaringsfooie wat bereken word: https://www.sanparks.org/parks/addo/tourism/tariffs.php

Verskeie diere in die Addo park (Foto LM)
Addo Olifant Nasionale Park vorm deel van die San Parks groep, dit is die derde grootste park naas die Kruger Wildtuin en Kgalagadi Park. Addo is 1640km2 – moenie my vra hoeveel rugbyvelde dit is nie – maar ek is seker dis groot genoeg vir die hordes olifante om hul eie Super 14 liga te kan begin.
Addo Olifant Nasional Park spog met die Groot 5 – Buffels, Leeus, Olifante (duh!), luiperd en renoster. En met die laaste kamp was ons gelukkig om 4 van die 5 te sien, net die luiperd wat ons ontgaan het. Soms kan mens ry in die park en niks sien nie, ander dae is jy baie gelukkig, mens moet net geduldig wees. Verkykers help, asook ‘n groot blaas, mar as die nood roep is daar darem Jack’s picnic spot in die middle van die park waar jy toilet geriewe het en ook braai fasiliteite, bene strek, regroup en dan verder kan ry.  

Behalwe vir die Groot 5 kan jy ook sien: kudus, jakkalse, meerkat, rooikat, rooihartebees, zebra, duikertjies, hyena, grysbok, vervet apies, vlakvarke, aardwolf, watermonitors, en die oulikste klein ding – die flightless dungbeetle, onder andere.

Addo se Flightless Dungbeetle (Foto LM)
Addo is bekend vir die Flightless Dungbeetle, of in suiwer Afrikaans: landgebonde / vlieglose miskruier (toemaar, ek het ook gefrons). Hulle is enige iets vanaf ‘n 50c groote tot so groot soos jou palm. Hierdie hardwerkende diertjies is so besorg, dat daar verskeie tekens deur die park is wat jou waarsku om nie oor hul, of enige olifant mis te ry nie. Hul rol die olifant mis versigtig in ‘n balletjie, die wyfie lê ‘n eier in die misbolletjie en dit word weggerol en onder grond ingewerk sodat die larwe kan uitbroei. Ek dink hulle is vrek oulik, en die beste voorbeeld van: “een man se k@k, is ‘n ander man se skat”.

Jack's (Foto LM)
Jack’s Picnic Spot, soos bo genoem, is in die middle van die park. Dit is vernoem na een van die park se swart renosters (daar is nie wit renosters in die park nie).  Jack, die renoster, het sy laaste dae in die park deurgebring in die area waar die piekniek plek nou staan. Renosters is in 1961 in die park in gebring, Jack was een van hul en was toe reeds 5 jaar oud. Jack is oorspronkik JA-a genoem, ‘n verwysing aan JA Hunter wie verantwoordelik was vir die uitwis van meer as 1000 swart renosters in Kenya. Hy was deur ‘n veldwagter (Karools Goliath) herdoop as Jack, wat meer gepas was. Baie renosters is uit die park verwyder en hervestig, maar Jack het ‘n hart kondisie gehad en sou dit te gevaarlik wees om hom te probeer skuif. Jack was oor die ouderdom van 30 toe hy oorlede is, en sy storie staan trots by die rusplek vir almal om te lees.

Maar dis mos Addo OLIFANT Nasionale Park, en daar is definitief rede – daar is baie olifante. In die park self is daar in die 2016 sesnus 700 gewees, maar huidige tellings is glo tot oor 1000. Hierdie jaar (2020) is daar ook tweeling olifantjies gebore – dit is baie skaars, maar die park het in sy bestaan al 4 pare tweelinge verwelkom.  Mens kan werklik ure sit en kyk hoe hul swem, eet, trompeteer, en jou verkyk aan hoe groot hul is, mar so verskriklik stil.

Olifante is volop in Addo - Gentle Giants - (Foto LM)
Sien ook my opkommende blog spesifiekk oor die olifante van Addo en meer geskiedenis daaroor. Van hul uitwising voor die park se ontstaan, die stigting van AONP, Hapoor en sy kroos, lemoene, sitrusboere en meer.

As jy verveeld raak, wat regtig onmoontlik is, is daar ook ‘n bird-hide vir die avid birdwatchers, ‘n informasie sentrum (museum) wat meer oor die park wys (en die storie oor Hapoor vertel). Of as jy nie lus is vir braai, kan jy die restaurant in die park besoek  - fyi – beste cappuccinos!
Maar vir nou los ek jou met die ideë: is jy naby PE, is jy oormoeg, wil jy wegkom en recharge – gaan na Addo – glo my, dis worth it. Van die vriendelike veldwagters, na die opgewonde toeriste, die ongelooflike sonsondergang oor die park, en die geluid van die natuur in die Afrika atmosfeer…. Sug… vat my terug!

Mar tot ons volgende avontuur…
LM