Sunday, February 6, 2022

Die vrou, die slang en die midde-stad - Senhora Da Cobra, Maputo, Mozambique

Wanneer 'n mens iets spesiaal vind in 'n dorp, of wel hier 'n stad, wil mens altyd begin met "in die hartjie van...", maar hier is dit nie naby "die hartjie van" Maputo nie, meer soos daar naby die treinstasie, in oogglans van die nuwe brug, by die werkersmonument (Praca dos Trabalhadores) is die monument wat my hart en my verbeelding gesteel het.

So kom ons begin dit met... ken jy die storie van die vrou en die kobra?

Senhora van die voor en regterkant (Foto LM/SP)
In Mozambique is daar 'n plaaslike legende bekend as "Senhora da Cobra" - die Vrou van die Kobra.  Volgens dié legende, was daar 'n groot boom in die middel van hierdie besige deel van die Maputo se middestad. In hierdie boom het 'n reuse slang gebly, waarskynlik 'n Mosamabiekse spoegkobra, wat almal wat onder die boom deurgestap het gepik het en sodoende hul dood veroorsaak het. Van kinders, na vrouens en werkers, almal was slagoffers vir die onheil wat 'n kobra was.

Eendag het 'n vrou besluit, genoeg is genoeg en het 'n groot pot warm pap gekook, en tradisioneël dit op haar kop gebalanseer om onder deur die boom te loop. Toe die slang haar probeer aanval en byt, het hy in die groot pot geval en verbrand in die hitte van die pap. Die vrou het as held terug geekeer na die gemeenskap en almal het haar moed en heldige daad geprys.

Jare later is die monument in haar eer opgerig in die dorpsplein, ter eer aan die werkersgemeenskap. Baie was gekant hierteen, want die eer moes wees vir die werkers en Mosambiekse vegters wat in die eerste Wêreldoorlog oorlede is, maar eerder is die fiktiewe vrou simbolies vereer. Die groot, klip monument is deur die kunstenaar Ruy Rogue Gameiro, saam met argitek Veloso Reis in 1935 ontwerp en opgerig.

Senhora da Cobra in al haar glorie (Foto LM)
Senhora verteenwoordig die legende van hierdie oorwinning, met 'n groot slang aan haar voet, asook die gild en swaard wat eer bied aan die koloniese tydperk en gevegte van die land. Die land se nasionale wapen word ook uitgebeeld, met klipwerkers uitgekerf aan die voet van die reuse monument.

Toe ek eers gehoor het van haar, het ek my oë nuuskierig by elke straat af bekyk met die hoop dat ek 'n glimpse van haar kan kry, en toe ons uiteindelik die regte straat vind, en die duisende tuktuks en taxis verby geglip het, het ek haar gewaar. In alle prag. In die middel van 'n rotonde, sodat jy met jou voertuig om haar kan ry. Reuse groot, nie life-size nie, maar drie dubbel dit! Sy staan omtrent drie meter hoog, met haar onderste pedestaal omtrent 4 tot 5 meter hoog. So seker 8 meter in totaal, jy kan nie die groot standbeeld miskyk nie. Ek het nou die my maatband saam geneem nie, dit het nie gepas by my toeriste uitusting nie. 

Wat ek wel weet, as nou nie haar lengte, dis dat sy my inspireer het. Haar storie, fiktief of nie. Dat mens soms nie moet wag vir 'n held om jou lewe te kom red nie, maar dinge terug na basics neem, en self opstaan om dinge te verbeter. Sy het nie gewag dat 'n soldaat of 'n president of iemand haar kom red van die slang, sy hett bloot net gedoen wat sy elke dag gedoen het, 'n pot gekook, maar net een stap verder gedink. Ons is ons eie held(in), en dalk klink ek feministies, maar hierdie fiktiewe vrou het my hart gesteel, en laat besef dat ons nie 'n ruiter op 'n wit perd nodig het nie, maar eerder ons eie avontuur kan beplan, te voet, of te perd - maar op ons eie terme!

So tot ons volgende avontuur,

Fique orgulhoso!

LM