Wednesday, November 30, 2016

Kaai 4 met sy kwaai vuur – Mosselbaai

Foto LMH
Ek begin al dink amper elke grondpad avontuur lei na een of ander vorm van kos, maar dan onthou ek, almal moet tog eet – en hoekom dan nou nie by ‘n lekker gesellige plek met ‘n vuurwarm uitsig?

So kom ons toe by Kaai 4 wat in die Mosselbaai hawe gelee is. Kaai 4 is een van vele restaurante op die hawe tussen dollosse en seevoëls, maar is steeds by vêr my gunsteling. Die “ontvangs” en kombuis lyk nie soos veel van die buitekant, maar wanneer jy die restaurant betree vind jy jou sintuie neem heeltemal gelyktydig oor en moet jy sommer so op die grondpad ingang tot stilstand kom om alles in te neem.

Foto LMH
Wat jy sien is verskeie elemente wat die indruk skep dat hierdie seelangse restaurant verskeie treasures vanuit die see gewerf het en in hul opelug voorportaal uitgestalleer het. Skulpe, driftwood, bottles, blikkies, toue, ‘n halwe boot wat as rak dien en selfs ‘n blou haar meermin-mannekyn.  Die resturant self is verskeie hout tafels onder palm bedekte hutdakke met gemaklike rusbanke en boot décor waarby mens die somerson lekker kan geniet.

Wat jy hoor is die gesels van restaurant gangers, seevoels wat oordak vlieg, die sagte klap van die branders teen die dollosse en vae klanke van swemmers wat op Dias Strand baljaar. Wat jy ruik is die smulrook van ‘n groot braaivleisvuur wat in hul eie boma gemaak is, die reuk van varsgebakte roosterbrood is oorweldigend en mens kan eintelik die jam en botter proe soos jy daaraan dink. Die menu bestaan uit ‘n verskeidenheid Suid Afrikaanse lekkertes, en die reuk van marinade laat mens se mond dadelik water. Gelukkig is daar local craft bier om jou lus te les terwyl jou kos gemaak word.

Gesellige tafels met die boma in die agtergrond (Foto LMH)
Nadat jy jou bestelling by die kassier bestel het, en die baie vriendelike braaier ‘n paar grappe gemaak het, kan jy jou sonbril aansit en rustig verkeer met die uitsig van Mosselbaai se see voor jou met die Outeniqua berge in die verte. Met geleentheid is daar selfs dolfyne en robbe reg aan die voet van die hawe muur om jou te vermaak, en soos hul al vertel het was daar selfs walvisse spoeg naby om te bekyk.

Kaai 4 is die perfekte restaurant vir die generasies, dit is familie vriendelik, dit is romanties genoeg vir ‘n date night en dis cool genoeg vir die studente om lekker te kan kuier. Hier kan ek en my man ure verby sit en rondkyk terwyl die son sak oor die Dias Museum net agter Kaai 4.

Pragtige uitsigte met die
bergreeks in die agtergrond
(Foto LMH)
Ons het oorspronklik in 2015 op ons heuningmaan (wittebrood) die restaurant ontdek na ons perongeluk die verkeerde afdraai geneem het en in die haweparkering beland het, maar ek moedig jul aan – vat die verkeerde afdraai want hierdie restaurant op die grondpad van de hawe is die moeie werd.

Want elke avontuur begin met ‘n grondpad…
Lekker eet!

LMH





Monday, November 28, 2016

Big Blu Restaurant - Mosselbaai

Big Blu (Foto LMH)
Big Blu is ‘n restaurant in Mosselbaai by die Punt. Dit is net bo die Shark Lab en nadat jy hul besoek het en ondersteun het in hul navorsing, kan jy gerus inloer by Big Blu en ontspan soos geen ander restaurant kan offer nie.

Big Blu sit net bo die klippe en golwe van Mosselbaai Punt en bied die mees amazing uitsigte vir die wat daar inkom. Maar kom ons begin voor. Ingestap vind jy seesand vloere met cocktail tafels wat surfboars as “dakkies” het. Dit skep onmiddelik die gevoel van cool, strand en self ‘n tikkie oorseese invloed.

Swaaie by die kroeg met die mooiste mosaic (Foto LMH)
Daar is gemaklike banke by die eet tafels en by die kroeg met die mooiste skakerings van blou mosaic, kan jy terugsit, jou voete lig en…. swaai! Dis reg – sekere van hul stoele is briljant deur swaaie vervang. Met die inloop en die aansig van ‘n swaai, kikker dit die kind in enige iemand op en wil jy daarop sit! En dit is gemaklik! Slim plan, want so kan mens vir ure lank sit en swaai en kelkies geniet.

In die rook kamer, vir die van ons met slegte gewoontes, is daar ook swaaie, en enorme groot ottomans, waarop skuinslê na ‘n lekker maaltyd baie moontlik is. Behalwe vir kelkies en milkshakes, bied Big Blu ook ‘n groot verskeidenheid spyskaart items aan waarvan seekos, steak en kosmandjies alles benut kan word.

Wanneer jou bestelling geplaas is, jou kelkie in die hand is en jou agterstewe stewig op ‘n swaai is, kan jy gerus by die vensters uitstaar na die eindelos branders van Pinnacle Point en na regs die St Blaize ligtoring en grot bekyk. Daar is ook swemgate reg onder die restaurant, so vermaak is altyd byderhand terwyl jy self die moed bymekaar skraap om in te spring.

Swaai, uitsigte en seesand - hoe dan anders (Foto LMH)
Big Blu het nie net ‘n ongelooflike atmosfeer nie, maar dit is goed geleë in Mosselbaai, met asemrowende uitsigte, goeie kos, en het ek jul vertel van die swaaie….?




Big Blu lê geleë op ‘n teerpad en nie’n grondpad, maar wees gerus dat jy jou tone in hul seesand vloer kan indruk.

Geniet hierdie avontuur, soos ‘n kind op ‘n swaai….

LMH

Hop Vallei Plaas Stal – Die beste pizzas ooit!

Local pizza en local wyn - die beste kombinasie! (Foto LMH)
So 10km oor die Outeniqua pas vanaf George na Oudtshoorn is daar ‘n klein padstal. Druiwe rank oor die buitenste plafon, voëlverskrikkers op die stoep en natuurlik die eindelose karre wat almal daar is vir dieselfde rede as wat ons daar was: PIZZA!

Pizza is ‘n wêreldwye gunsteling, en by Hop is dit nog beter want dit word vars in hul oondgemaak terwyl jy vir jou ‘n bottle wyn of koeldrank by die winkel langsaan koop. Jy smul dan op die lekker pizza (Valley Harvest is my gunsteling!) onder ‘n afdak waar daar klomp plaaserige goedere pronk. Uitgedroogte mielies en druiweranke hang uit die plafon, gesegtes, en fotos van almal wat die plekkie al besoek het en die tafels is so gerangsik dat as jy nie met jou metgesel kan praat oor jou mond te vol is, is die tafel langsaan naby genoeg vir jul albei om afteluister.

Die Hop se pizzas kom in verskeindenheid, daar is vele keuses om van te kies, heel pizzas, of vir die vinnige verbyganger kan jy per slice koop. Maar moet jouself nie flous, ‘n slice, nie soos franchise slices wat so armoedig gesny word, is sowaar ‘n kwart van ‘n pizza!

Die atmosfeer is heerlik, die kos is nog beter, die mense is vriendelik – daar is net iets omtrent ‘n gedeelde liefde vir kos, dit is immers hoekom ons almal voor die klein cashiers tafeltjie brom – en ‘n Hop belewenis is die moeite werd as jy padlangs verbygaan.

Dit is nou wel nie ‘n grondpad nie, maar vir pizza, stop mens enige plek!

Smul op Hop se lekker pizzas, en laat die avontuur begin…

LMH

Tuesday, November 22, 2016

GEDIG: My Mosselbaai Droom

Toe Dias jou ontdek en die branders aan sy voete voel
Het hy ook sy oe toe gemaak en na jou geluister soos ek doen?
Die visserbote lapaan jou voete, soos dansers op ‘n verhoog
Walvisse en dolfyne is jou orkes met water instrumente
Die wit hut dakkies jou gehoor
Die tuinroete groei op jou rug
Maar jy staan vas en solied en uitstaar oor die see
Ek laat my briewe by jou heenkom
Ek bid vir liefde op jou voet
Jy leef sterk voort in die denke van die Portugese
Maar meer so in die hart van Afrikaans
Tot die witboskraai weer verby jou sweef
Los ek my hart by die Posboom
En my gedagtes droom van jou,
My Mosslbaai droom.

LMH

My liefde vir Mosselbaai is iets wat ek al jare het, daar is net iets omtrent die plek... (Foto LMH)


Monday, November 21, 2016

#grondpaddromers op Instagram!

Outeniqua Plaasmark – ‘n Naweek Gunsteling

Sitplek vir lekker eet (Foto LMH)
Na ‘n lang week is daar min dinge wat my op ‘n naweek vroeg sal laat opstaan. Daar moet beloftes wees van ontbyt. Reuke van koffie. Soettandsywerhede. En iets wat my so bietjie retail therapy offer. So natuurlik was ek baie bly om die Outeniqua Plaasmark te ontdek. Dit word elke Saterdag op die N2 net buite George gehou by die Kraaibosch ontwikkeling.

Brekfis (Foto LMH)
Maar hierdie is nie net enige average plaasmark nie. Die mark is al sedert 2011 aan die gang en is baie goed georganiseerd. Van stalletjies en uitleg, na verskeidenheid en aansig, alles van die mark maak jou weer wil terug gaan. Dit voel sommer of jy vir jou ou vriende gaan kuier as jy daar arriveer. Die musiek speel heerlik in die agtergrond. Almal is vriendelik. Alles lyk mooi. En alles ruik te lekker!

Stalletjie by die mark (Foto LMH)
Biltong en droëwors, vars vrugte en groente, brekfis en kos vir die hele gemeenskap! Daar is sjokolades, fudge, cupcakes, terte, brode, brousels en nog meer. Alles lyk so lekker dat as jy dit waag om te gaan moet jy maar vergeet van jou dieetplan! As jy nie van giant burgers hou nie is daar ook steak, as jy nie van steak hou nie is daar ook Chinese kos, as jy nie van Chinese kos hou is daar melkkos… die lys van verskeidenheid gaan aan en aan en aan…

Buiten die amazing kos, is daar groot hoeveelhede tuisgemnaakte goedere en crafts. Hout beelde, juwele, biltongsnyers, tuinversierings, klere, droomvangers, skilderye, speelgoed en nog soveel meer.

Stalletjies galore! (Foto LMH)
Dit is nie net die eetgoed en crafts wat mens na die mark lok nie, dit is die atmosfeer ook. Dit laat dit werklik soos ‘n gemeenskap voel. Almal lyk of hul almal ken. Almal glimlag en geniet dit. Kinders speel te lekker in die speelpark en daar is ook speletjie borde vir die ouergenerasies om hulself meer te vermaak oor ‘n koffie, of vir pa terwyl ma te lekker shop!





Toe ek eers na die area trek en probeer uitvis wat daar te doene is hier rond, was die eerste ding wat met meeste opgekom het: “Saterdae oggend is die plaasmark aan, jy moet gaan, almal doen!” En nou weet ek hoekom.

Die pad na die plaasmark loop van hoofweg na afdraai na grondpad… want elke avontuur begin op ‘n grondpad! So laat die avonture begin, maak eers net seker jy het genoeg verversings by die mark gekoop…


LMH

Kaart van Afrika, Wildernis

Foto LMH
Wildernis is omtrent ‘n klipgooi van George af op die N2. Daar is baie lekker dinge om daar te doen, en as jy eerder net wil alleen wees is die groot strande met uitsigte van die vêre see presies waarna jou siel smag, gedurende feestyd is jy een van die vele wat daar rondwriemel en parkeering soek, maar dit is wel die moeite wer om as jy daar verby te ry, in te draai, die dorpie te sien en natuurlik kraans langs die vae bordjies wat sê “Map of Afrika” volg.

In die krul waters van die Kaaimansrivier het die vorm van Afrika as kontinent gevorm. Dit is asemrowend, hoe dit woud, bome en fauna alles saam die vorm van Moeder Afrika maak. Mens kan nie help maar die natuurlike kunswerk met oop mond te beskou nie. Verder op in die grondpad is daar ook die paragliding spring punt, waar jy oor myle en myle van die Wildernis see kan uitstaar.

Kaart van Afrika (Foto LMH)


Doen jouself ‘n guns, voel so bietjie trots op die Afrikabloed wat deur jou loop en gaan kyk na die Kaart van Afrika. Jy volg 'n grondpad na die kaart, en dit maak alles nog meer spesial, want grondpaaie lei altyd na 'n nuwe avontuur.

Laat die avonture begin...

LMH

Tuesday, November 15, 2016

Die aroma van koffie oor Dias Strand

Daar is twee dinge wat ek ‘n groot liefde vir het, een is my man, natuurlik, en die ander ‘n goeie koppie koffie! Niks is beter as die klank van koffiebone in ‘n grinder nie, of die geluid van die drip-drip van ‘n koffiemasjien op ‘n vroeg oggend of die reuk van moerkoffie wat engie vertrek absorbeer. Ok, hier pause ek nou eers…. Ek gaan loop koffie maak voor ek verder skryf…

Daarsy – beker is vol, nou kan ek verder tik.

Op ons wittebrood in 2015 het ek en my man die lieflikste koffiewinkel ontdek op Mosselbaai en stop ons elke keer as ons in die area is. Blue Shed Coffee Roastery sit op die heuwel in Bland Straat en kan jy dit nie mis kyk nie, dis letterlik ‘n blou geverfde skuur.

The Blue Shed Coffee Roastery, Mosselbaai (Foto LMH)
Ou bad omskep in bank (Foto LMH)
Die styl van die plek is oud-chic en vintage. Buite is daar ou baddens wat as banke dien, met ‘n groot ou deur wat jou ingang gee tot die winkel self. Binne is daar sakke vol koffiebone waarvan jy kan koop en bestel, hul grind dit vir jou vars op perseel. Hul het ook ligte etes beskikbaar met die lekkerste tuisgemaakte scones en muffins soos net ‘n koffiewinkel kan voorsien. 
Weirdste ceiling fan ooit (Foto LMH)

Uit die dak hang ‘n groot ou fabriekswaaier wat as dak fan omskep is. Ek het nog nooit so iets gesien, so vir my is dit super cool. Die ou banke en koffietafels skep dadelik die gemak gevoel en jy is sommer lus en gryp ‘n boek van hul boekrak af om jouself tuis te maak. 

Die binnekant is uitgedek met banke, boeke, koffie versamelings en meer (Foto LMH)
Die eienaars is ook baie vriendelik, ek het nie hul name gekry, maar wel gehoor dat soos ons het hul Mosselbaai besoek op vakansie en toe hulself belowe dat eendag hul daar sou vestig. Toe hul wel die trek aandurf het hul die Blue Shed oopgemaak, en ek, persoonlik, is dankbaar daarvoor.
Besoek hul gerus, raak gemaklik, en kyk uit oor die waters van Dias Strand onder ‘n sambreel op hul patiogedeelte. Koffie is lekker, en lekker koffie is nog beter!


So lief is ek vir koffie dat een van my gunsteling liedjies Bittersoet van Koffie deur Kaleidoskoop altyd op my lys van top 10 cool songs sal verskyn:


Elke avontuur moet begin met ‘n vroeg oggend koffie, so laat die avontuur begin terwyl die koffiepotte prit...


LMH

Monday, November 14, 2016

Die Bloutrein Bakkery en Restaurant, N2 George

Soos mens inkom van Wildernis se kant, by die N2 sirkel is daar aan jou linkerkant ‘n ou blou trein. Dit lyk eintelik soos niks van buite, maar vat ‘n kans en stop daar oor. Dit is die Bloutrein Bakkery & Restaurant.

Foto vanaf Google
Van buite is daar ou wit tente wat die plek verleng, en die helder blou geverfde kleur van die trein self is al wat uitstaan tussen bosse bome en varings. Maar binne word jy gegroet deur vriendelike staff en die reuk van varsgebakte brood. Daar is verskeie tafels uitgelê met brood, terte en koffiebone wat gekoop kan word, met handgebreide oumalappies en goeters ook.

Matewis geniet sy melk (Foto HH)
In die middle van die restaurant/kajuit is daar ‘n groot swart kaggel waarom jy snoesig kan sit en jou koffie geniet op koue dae. Buite is die kombuis soos ‘n tweede kompartment en die badkamers is ook ‘n aparte kompartment, maar darem baie beter as ‘n normale treintoilet. Die Bloutrein Bakkery is nie so 5-stêr soos die luukse Bloutrein wat destyds toere gedoen het landwyd nie, maar dit is werd die stop. As nie vir die vriendelike staff, is dit die vriendelike meouw van Matewis die kat wat sommer gou my van die badkamer tot by ons tafel langs die kaggel gevolg het. Hy het ook nie twee keer gedink om homself tot op my skoot te nooi nie, en dus moes ons maar saam met ons Moersekoffie (soos dit in die menu staan) vir Matewis ook ‘n koppie melk bestel.


Die Bloutrein Bakkery en Restaurant is ‘n idiale stop oppad na jou volgende avontuur.
So laat die avonture begin…

LMH

Thursday, November 10, 2016

Goeie Genade, dis 'n Grot! Die Kango Grotte!

Sowat 60km oor die Outeniqua vanaf George vind ‘n mens die karookoningdorp, Oudtshoorn. Bekend vir baie dinge, soos KKNK, verestowwers, leerhandsakke en natuurlik die coolste ding daar – Die Kango Grotte.

Ek was self jare laas daar gewees, 18 jaar terug om presies te wees met ‘n St. 4 (want ek weet nog nie hoe die graad storie werk nie) kamp. As kind het ons ook al daar gegaan met my ouers en vir ‘n oom of tannie gaan kuier. Ek onthou vaagweg hoe ons op volstruiseiers gestaan het vir fotos en klein kuikens vasgehou het. Maar ek kon die grotte nie so goed onthou nie. So toe my man noem hy was self ook as kind daar was dit die perfekte geleentheid vir ‘n avontuur!

So ons pak toe ons metaforiese wa (ons kar) en sit voort oor die berg soos vele ander jare voor ons per ossewa moes gedoen het. En weer besef ek toe net, ek sou seker die mees irriteerende voortrekker op aarde gewees het. Dis vêr oor die berg as jy nie per hoofpad kon ry nie. Dis ongelyk, stowwerig, vol bobbejane en dis amper altyd bewolk op die koppies. Hul sou my onder die ossewa wiel in gooi vir die 100ste keer vra: “Hoe vêr nog?”. Dus is ek dankbaar vir tegnologie, soos karre en aircons.

So gesê was ek soos ‘n kind opgewonde toe ons verby die hoeveelste plaas ry, maar inplaas van karoo lam, was daar honderde volstruise (verestowwers soos my 4jarige sisterskinders dit sou noem). Mens is oppad na Oudthoorn en jy WEET jy gaan volstruise sien, maar dit het ons so onvewags gevang dat ons van absolute histerie nie kom ophou lag nie en sê hoe weird dit is nie!

Smitswinkel & Harley Jacks Pub

Smitswinkel (Foto LMH)
Met die inkom by die groot voëlparadys kry mens die Smitswinkel. Dit lyk soos ‘n ou gebou of plaasstoor wat omskep is in ‘n winkel en restaurant, met die koffie winkel aan die voorkant en die retsuarant en speel areas aan die agterkant. Dit ruik soos vars gebakte kolwyntjies en moerkoffie. En daar is iets vir almal – koffie vir ma, tee vir ouma, witblits vir pa…. Die winkel afdeling is propvol tuisgemaakte crafts en beeldtjies van volstryse en krokodille.  Kaarte oor die 1820 setlaars en allerhande plaasgeinspireerde goedere, baie oulik.

Harley Jacks Pub (Foto vanaf Google)
Aanliggend met die restaurant is daar dan ook Harley Jacks pub, hul was toe toe ons daar was, dit was immers oggend ure, maar wow, wat ‘n plek. Die bar self is uit hout, nee uit boom. Dis amper asof ‘n groot boom die area oorgeneem het en hul het sommer net motorfiets en sitplekke en tafels daarop gesit. Baie cool. Vintage karre staan buite die deur, daar is bike memorabilia oral en dit ruik sommer soos leer daar binne. Nie volstruis leer, biker leer. The cool kind.
Kango Grotte se ingang en parkeerterein (Foto LMH)

Die Kango Grotte

Terug in ons wa na ‘n vinnige breuk is ons weer oppad na die grotte. Die roete soontoe is baie mooi, dis net buite Oudtshoorn self, jy ry kronkellend deur die paaie tussen klowe tot by die ingang van die grotte. Met die aankoms het ek gedink, ok, so waar is die grot en dan besef jy onder daardie gasbedekte heuwel lê ‘n massiewe grot, met verskeie uitbreikamers en amazing natuur wonders. En dis wanneer mens soos ‘n kind opgewonde raak.

Vinnig die kar gesluit en gedraf stap na die kaartjiekantoor toe die cargaurd vir ons sê die toer begin oor 5min. Daar is twee tiepe toere by die grotte. Die Heritage Tour – wat R100 per person is – waar ‘n toergids jou deur die grotte neem en van alles vertel. En dan ook ‘n Adventure Tour – wat R150 per person is – waar jy die gewone toer doen en dan kan verder gaan om deur verskeie krake en tonnels deur die grot te klim en klouter en hoop dat die bacon en eiers van die oggend se ontbyt jou nie laat vasssit nie. As ‘n vrou van voller figuur (tik sy glimlaggend) het ons die veilige roete gekies. Daar is streke van die avontuurtoer waar die deurgang slegs 32cm is. En jy moet nog agterstevoor en onderstebo daar deur seil. Definitief dit werd vir die wat kans sien, daar is selfs in die voorportaal lifesize cutouts van die grot deursnees waar jy kan sien hoe nou dit is en seker kan toets of jy sal pas.



Ons wandel toe op met die gebou en vind ‘n groot groep reeds met ons flambojante toergids. En ons sit voort deur die traliehek ingang en amper dadelik voel jy die bedompige, nat gevoel wat mens sou verwag in ‘n grot.

Foto LMH
Hier is bietjie raad oor die grotte: Die temperatuur van die grot is altyd konstant op 18grade celsuis, maar met die bedompigheid en humiditeit voel dit baie warmer. Dit is nie nodig vir ’n baadjie nie, maar gemaklike skoene is ‘n bonus. Plakkies gly op die natterige grotvloer en jy loop redelik ver deur die grot. Jy mag nie eet en drinkgoed in neem nie, maar daar is darem ‘n kafee en restaurant met die uitkoms.




Aktiewe staligtiet - kan jy die druppel sien? (Foto LMH)
Die mense wat in die grot gewoon het was Khoi San, maar hul het slegs in die ingang geleef, omdat hul nie geweet het wat verder was, of dalk net te bang was. Die grotte is nou belig met elektrisiteit, maar toe dit eers ontdek was was daar niks meer as ‘n dowwe kerslig wat deur Jacobus van Zyl in 1780 gedra is. Die grotte het omtrent 26 vertrekke met die Van Zyl saal wat die grootste is omtrent so groot soos ‘n rugbyveld.

Die grotte bestaan uit staligtiete wat vanuit die dak hang en staligmiete wat vanuit die vloer boontoe strek. Omdat daar nie veel water deursyfer nie, weens droogte, is baie van die staligtiete en staligmiete dormant, of dood. Daar is wel nog aktiewe druppels en aktiewe staligtiete hier en daar. En die feit dat ‘n drupel water so groot effek op ‘n grot kan hê is werd die stap.

Cleopatra's Needle (Foto LMH)
Daar is baie staligmiete en staligtiete wat by mekaar gekom het en een lang pillar vorm gevorm het, die mees bekend is die Cleopatra Needle. Nuuskierig het ek gevra wat sou gebeur as die Cleopatra Needle omval en ons flambojante toergids het my verseker dat ‘n aardbeweig 6 op ‘n Richterskaal moet haal vir die grot om geaffekteer te word. (Snaaks genoeg was daar ‘n week of wat na ons besoek ‘n aardbeweing van 3.6 op die Richterskaal by die grotte. Lees meer hier:

http://www.georgeherald.com/news/News/General/174548/Aardbewing-skud-Oudtshoorn--George

Die grotte se deurloop is die moeite werd. Dis insiggewend, en ek sou aanraai dat jul vrae moet vra. Ek is nie skaam om te vra hoe en wat en waar en ek dink die toergidse geniet dit. Daar is altyd ‘n slimkop tussen die toeriste, moenie daardie person wees nie. Daar is ook altyd een onfikse vroutjie wat nie kan by hou en die hele groep vertraag, gelukkig was dit nie ek nie. Die groepe is groot, maar die toergidse praat duidelik en ons gids het sommer tjop-tjop mense stil gemaak en hul op hul plekke gesit.

Kango Grot wonders (Foto LMH)

Die Kango Grotte is ‘n moet, al was jy daar as kind, gaan weer. Dis iets wat mens as volwassene meer waardeur. Jy verstaan die natuur meer, want ons kyk almal National Geographic,  en die uitleg en die jare se formasie maak jou glo in wonderwerke, want dit is wat hierdie majestieuse grot is, ‘n absolute wonderwerk. Daar is reeds vernieling aan die grotte, met mense wat toe daar nog funksies in die grot gehou was “souveniers” geneem het. Of hul name in die grot muur gekerf het of met swart kersrook hul name teen die dak gestempel het. Dis belangrik dat almal die grotte sien, voor daar regtig ‘n 6 op die Richterskaal is, voordat daar ‘n rotsineenstorting is of nog meer geloofwaardig, die mense die plek verniel.

Groete uit die grot.
Laat jul eie avontuur begin…

LMH

Die Geheime Grot van Kaaimans Tonnel, Wildernis

Mistige dag by die uitkyk (Foto: LMH)
Wanneer ek en my man oor die uikykpunt oor Wildernis strand kyk, is daar drie goed wat ek mal is oor om na te kyk. Eerstens die uitgestrekte, wye see wat lyk asof die massa water nooit tot einde kom, ver verby die horizon. Dit is vir my amazing om langs die see te staan en ek se, met die toon van ‘n skrywershart; “Kan jy glo ons staan nou op die rand van ‘n hele kontinent?” Het jy al so daaraan gedink, dat wanneer jou tone die lap van die branders voel, is jy die naaste wat jy ooit sal wees aan die buitelyn van ‘n kontinent?

Die Loerie graffiti onder die brug. (Foto: LMH)
Daar is by die see ook altyd ‘n rustigheid wat tevore kom, soos ‘n kalmte of dromersiel ervaring. Dit is seker omrede daardie rustigheid dat die tweede ding vir my so mooi is, iets eenvoudig… ‘n Helder graffiti loerie met die woorde RIV Ouma (Rus in Vrede Ouma) wat in 2016 deur ‘n anonieme kunstenaar onder die brug by die uitkyk geverf is. So mooi, en my hart voel altyd groot as ek vir dit staan en kyk en ek dink: “Rus sag, vreemde ouma van iemand wat ek nie ken, hier waar jy die beste view in die wereld kan he.”



Die derde wonderpunt wat ons onlangs eers ontdek het, was ek eers nie oor mal nie. Ek was inteendeel bang. En heeltemal uitgefreak. Maar nou dat ek meer kennis daaroor het en ek meer gerus voel sal ek enige tyd weer wil teruggaan. Dit is die geheime grot agter die Kaaimansbrugtonnel as jy vanaf Wildernis se kant kom.

Net om my bangbroek neigings te verduidelik, verbeel jou die volgende:
Ek en my man het rustig op die strand geloop en besluit ons wil op die treinspoor onder die uitkykpunt gaan loop, ons gewaar dit altyd van bo maar het nog nooit dit van nader bekyk. Dus het ons strandlangs en toe spoor langs al om die rant van die heuwel beweeg. Ons het die landslide gevind wat veroorsaak het dat die einste spoor nou nie meer deur treine benut kan word nie en nuuskierig oor geploeter. Aan die anderkant was ons verbaas dat die spoor van sement en yster verander het na hout en yster, asof ons onwetend deur ‘n timezone gegaan het. Giggels was vinnig op stop gesit met die kennisgewing wat waarsku: BEWARE HIGH MUGGING AREA. So nou ja, my avontuur gees het vinnig in bangbroek verander en moes my man vooruit eers loop en dinge uikyk.

Om die draaitjie kom ons toe by die tonnel. En ek dink, dis dit, hier gaan ons gemugg word en op die voorblad van een op ander hippie weekblad aangekondig word as vermis. Maar sluip sluip is ons deur die tonnel en daar was lig. Lig en tafels? Lig en stoele? Lig en skulp kandelabres wat vanuit ‘n grot se dak hang?! Nee wag… waar is ek nou…?

Foto vanaf Google
Wat ons voor ons gesien het was nie ‘n droom, of my verbeelding wat my bangheid probeer wegsteek nie. Daar aan die anderkant van die tonnel vind ons ‘n ou gebou met hout decks en tafels en stoele. Uitgevat met blomme en ranke, driftwood en skulpe. En op ‘n tafel sit ‘n ouerige man, met ;n bakkie pap en glimlag vriendelik en verwelkom ons in. 

Nou om nie soos ‘n hippocryt te klink nie, nou voel ek sleg oor my eerste gedagte oor die plek en die man, maar al wat deur my kop gegons het was wie is hy, wat doen hy hier, hoekom nooi hy ons in, waar gaan ons uitkom en hoe gaan ons uitkom?

Kom ek verduidelik eers die agterstorie oor die plekkie, voordat my eerste, verkeerde opinie, op enige leser afsmeer. Die grot wat ons ontdek het was eers net dit ‘n grot. Met ‘n klein kantoortjie/stasie waar die Kaaimans stasiemeester treine verby gewaai het met hul trek verby Wildernis. Later toe die Choo-Choo wat vanaf George gery het daar verby begin kom het, het Fancourt ‘n klein restaurant, Kaaimans Grotto, daar oopgemaak waar treinpasasiers kan afklim, op hout decks kan koffie drink en die wonders van die Kaaimansriviermond bekyk. Omstrewe 2006 het erosie van bogrond veroorsaak dat die spoor toegegooi is op sekere plekke en dus het die treinritte gestop. Met geen kliente het Kaaimans Grotto hul deur toegemaak en alles verwyder behalwe sommige strukture.

Clifford, die Kaaimans Grotto grotman (Foto vanaf Google)
Dit is toe ‘n jaar of wat later dat grotman, Clifford, soos ek deur ander blog en berigte geleer het, die grot ontdek het met hulp van God se roeping. Hy het die plek opgekikker, squatter regte gekry en selfs permissie van Fancourt gekry om “agter die perseel te kyk” tot en met die treinspoor opgeknap word.

Clifford het begin goedere versamel, skulpe, speelgoed, kuns selfs beddens, en huis nou haweloses, kampers en die brawe paartjie of twee. Met die inkoms by Grotto is ‘n mens oorweldig met die aantal goedere wat soos ‘n ou tannie se huis oral versamel is. Doilies, lappies en kombersies. Skulpe, beendere en hout. Popkoppe, juwele en krale. Slef gemaaklte windchimes wat vanuit die grot se dak hang. Kerse wat vreemde lig skep omdat daar geen elektriese toevoering na die grot is. DIt is baie overwhelming en net plain weird op die eerste aansig. 

Wanneer ‘n mens buite staan en na die grot kyk, sink alles in. Hoe vêr ons oor die treinspoor geloop het, hoe vêr sekere items gedra moes word om tot hier te kom. Hoeveel tyd en effort en duidelike liefde in hierdie grot ingesit is. Dat die grot nie na ;n grot verwys moet word nie maar ‘n huis. Clifford se huis. Waar hy tot 14 mense kan huisves en al wat hy vra is ‘n glimlag op aankoms en ‘n donasie op vertrek.

Foto vanaf Google

Die Kaaimans Grotto is werklik ‘n belewenis, ek self het nie met Clifford gepraat nie en ek hoop om weer te gaan en saam met om te gesels om die hoe en wat en waar van sy lewe te hoor. Ander het wel al met hom gesels en die beste blog/artikel wat ek gevind het is hier vir jul te lees:



So volgende keer as jul avontuurlustig voel en braaf genoeg is, stap spoorlangs, neem ‘n donasie en geniet hierdie grotman se skatte en kuns. Dis werklik ‘n belewenis!

Laat die avonture begin...

LMH



Wednesday, November 9, 2016

Omdat elke avontuur op ‘n grondpad begin….

Welkom by my blog, Grondpad Dromers! 

‘n Blog wat ek opdra vir skryf van gedigte, avonture en inspirasie stukke. Almal het soos ek iets om te deel, een of ander avontuur wat hul lewensverhaal vertel en ons paaie kruis nie altyd nie, maar deur middle van hierdie blog wil ek my avonture deel, my ontdekkings en my liefde vir die natuur.

Omdat ek glo elke avontuur met 'n grondpad begin...
 Soms is ons te besig om te stop en selfs die metaforiese rose te ruik, maar hier wil ek jul op my avonture neem deur fybos, en kraanse, ou ossewa paaie en skulpbestrooide strande. Ek wil jul nooi om ‘n virtual koffie saam met my op die stoep te geniet met die aansig van die Outeniqua vlak voor my, en ‘n digitale wynglas te klink wanneer die branders op die groewe van Vicbaai klap. Stap saam met my deur verlate treintonnels, klim saam met my wandelpaaie, ry saam op een van die 7 passe wat Ossewa-drewende voorvaders deur die berg geneem het. Ek beoog om my avonture met jul te deel. Dit is nie glans nie, dit is nie met geografiese feite beklemtoon nie, maar dit sal werd die virtuele toer wees wat ek as digitale toergids sal probeer vaslê.

 My blog sal ook ‘n paar gedigte koester, omdat die tuinroete my soos nuut geinspireer het. Soms sit ek en kyk na die Outenqua en weet hoekom soveel Afrikaanse sangers haar in hul prose noem. Soms ry ons deur Knysna na Storms se kant en kan ek my indink hoekom Dalene Matthee so lief was vir die Knysna bos. So hierdie is my eie Kringe van ‘n soortgelyke bos. Omdat ek wil. Omdat ek kan. En omdat elke avontuur gedeel moet word.

 So hier gaan ons… Ek hoop jul geniet wat ek vir jul sal offer.
  Laat die avonture begin…

 LM