Thursday, November 10, 2016

Goeie Genade, dis 'n Grot! Die Kango Grotte!

Sowat 60km oor die Outeniqua vanaf George vind ‘n mens die karookoningdorp, Oudtshoorn. Bekend vir baie dinge, soos KKNK, verestowwers, leerhandsakke en natuurlik die coolste ding daar – Die Kango Grotte.

Ek was self jare laas daar gewees, 18 jaar terug om presies te wees met ‘n St. 4 (want ek weet nog nie hoe die graad storie werk nie) kamp. As kind het ons ook al daar gegaan met my ouers en vir ‘n oom of tannie gaan kuier. Ek onthou vaagweg hoe ons op volstruiseiers gestaan het vir fotos en klein kuikens vasgehou het. Maar ek kon die grotte nie so goed onthou nie. So toe my man noem hy was self ook as kind daar was dit die perfekte geleentheid vir ‘n avontuur!

So ons pak toe ons metaforiese wa (ons kar) en sit voort oor die berg soos vele ander jare voor ons per ossewa moes gedoen het. En weer besef ek toe net, ek sou seker die mees irriteerende voortrekker op aarde gewees het. Dis vêr oor die berg as jy nie per hoofpad kon ry nie. Dis ongelyk, stowwerig, vol bobbejane en dis amper altyd bewolk op die koppies. Hul sou my onder die ossewa wiel in gooi vir die 100ste keer vra: “Hoe vêr nog?”. Dus is ek dankbaar vir tegnologie, soos karre en aircons.

So gesê was ek soos ‘n kind opgewonde toe ons verby die hoeveelste plaas ry, maar inplaas van karoo lam, was daar honderde volstruise (verestowwers soos my 4jarige sisterskinders dit sou noem). Mens is oppad na Oudthoorn en jy WEET jy gaan volstruise sien, maar dit het ons so onvewags gevang dat ons van absolute histerie nie kom ophou lag nie en sê hoe weird dit is nie!

Smitswinkel & Harley Jacks Pub

Smitswinkel (Foto LMH)
Met die inkom by die groot voëlparadys kry mens die Smitswinkel. Dit lyk soos ‘n ou gebou of plaasstoor wat omskep is in ‘n winkel en restaurant, met die koffie winkel aan die voorkant en die retsuarant en speel areas aan die agterkant. Dit ruik soos vars gebakte kolwyntjies en moerkoffie. En daar is iets vir almal – koffie vir ma, tee vir ouma, witblits vir pa…. Die winkel afdeling is propvol tuisgemaakte crafts en beeldtjies van volstryse en krokodille.  Kaarte oor die 1820 setlaars en allerhande plaasgeinspireerde goedere, baie oulik.

Harley Jacks Pub (Foto vanaf Google)
Aanliggend met die restaurant is daar dan ook Harley Jacks pub, hul was toe toe ons daar was, dit was immers oggend ure, maar wow, wat ‘n plek. Die bar self is uit hout, nee uit boom. Dis amper asof ‘n groot boom die area oorgeneem het en hul het sommer net motorfiets en sitplekke en tafels daarop gesit. Baie cool. Vintage karre staan buite die deur, daar is bike memorabilia oral en dit ruik sommer soos leer daar binne. Nie volstruis leer, biker leer. The cool kind.
Kango Grotte se ingang en parkeerterein (Foto LMH)

Die Kango Grotte

Terug in ons wa na ‘n vinnige breuk is ons weer oppad na die grotte. Die roete soontoe is baie mooi, dis net buite Oudtshoorn self, jy ry kronkellend deur die paaie tussen klowe tot by die ingang van die grotte. Met die aankoms het ek gedink, ok, so waar is die grot en dan besef jy onder daardie gasbedekte heuwel lê ‘n massiewe grot, met verskeie uitbreikamers en amazing natuur wonders. En dis wanneer mens soos ‘n kind opgewonde raak.

Vinnig die kar gesluit en gedraf stap na die kaartjiekantoor toe die cargaurd vir ons sê die toer begin oor 5min. Daar is twee tiepe toere by die grotte. Die Heritage Tour – wat R100 per person is – waar ‘n toergids jou deur die grotte neem en van alles vertel. En dan ook ‘n Adventure Tour – wat R150 per person is – waar jy die gewone toer doen en dan kan verder gaan om deur verskeie krake en tonnels deur die grot te klim en klouter en hoop dat die bacon en eiers van die oggend se ontbyt jou nie laat vasssit nie. As ‘n vrou van voller figuur (tik sy glimlaggend) het ons die veilige roete gekies. Daar is streke van die avontuurtoer waar die deurgang slegs 32cm is. En jy moet nog agterstevoor en onderstebo daar deur seil. Definitief dit werd vir die wat kans sien, daar is selfs in die voorportaal lifesize cutouts van die grot deursnees waar jy kan sien hoe nou dit is en seker kan toets of jy sal pas.



Ons wandel toe op met die gebou en vind ‘n groot groep reeds met ons flambojante toergids. En ons sit voort deur die traliehek ingang en amper dadelik voel jy die bedompige, nat gevoel wat mens sou verwag in ‘n grot.

Foto LMH
Hier is bietjie raad oor die grotte: Die temperatuur van die grot is altyd konstant op 18grade celsuis, maar met die bedompigheid en humiditeit voel dit baie warmer. Dit is nie nodig vir ’n baadjie nie, maar gemaklike skoene is ‘n bonus. Plakkies gly op die natterige grotvloer en jy loop redelik ver deur die grot. Jy mag nie eet en drinkgoed in neem nie, maar daar is darem ‘n kafee en restaurant met die uitkoms.




Aktiewe staligtiet - kan jy die druppel sien? (Foto LMH)
Die mense wat in die grot gewoon het was Khoi San, maar hul het slegs in die ingang geleef, omdat hul nie geweet het wat verder was, of dalk net te bang was. Die grotte is nou belig met elektrisiteit, maar toe dit eers ontdek was was daar niks meer as ‘n dowwe kerslig wat deur Jacobus van Zyl in 1780 gedra is. Die grotte het omtrent 26 vertrekke met die Van Zyl saal wat die grootste is omtrent so groot soos ‘n rugbyveld.

Die grotte bestaan uit staligtiete wat vanuit die dak hang en staligmiete wat vanuit die vloer boontoe strek. Omdat daar nie veel water deursyfer nie, weens droogte, is baie van die staligtiete en staligmiete dormant, of dood. Daar is wel nog aktiewe druppels en aktiewe staligtiete hier en daar. En die feit dat ‘n drupel water so groot effek op ‘n grot kan hê is werd die stap.

Cleopatra's Needle (Foto LMH)
Daar is baie staligmiete en staligtiete wat by mekaar gekom het en een lang pillar vorm gevorm het, die mees bekend is die Cleopatra Needle. Nuuskierig het ek gevra wat sou gebeur as die Cleopatra Needle omval en ons flambojante toergids het my verseker dat ‘n aardbeweig 6 op ‘n Richterskaal moet haal vir die grot om geaffekteer te word. (Snaaks genoeg was daar ‘n week of wat na ons besoek ‘n aardbeweing van 3.6 op die Richterskaal by die grotte. Lees meer hier:

http://www.georgeherald.com/news/News/General/174548/Aardbewing-skud-Oudtshoorn--George

Die grotte se deurloop is die moeite werd. Dis insiggewend, en ek sou aanraai dat jul vrae moet vra. Ek is nie skaam om te vra hoe en wat en waar en ek dink die toergidse geniet dit. Daar is altyd ‘n slimkop tussen die toeriste, moenie daardie person wees nie. Daar is ook altyd een onfikse vroutjie wat nie kan by hou en die hele groep vertraag, gelukkig was dit nie ek nie. Die groepe is groot, maar die toergidse praat duidelik en ons gids het sommer tjop-tjop mense stil gemaak en hul op hul plekke gesit.

Kango Grot wonders (Foto LMH)

Die Kango Grotte is ‘n moet, al was jy daar as kind, gaan weer. Dis iets wat mens as volwassene meer waardeur. Jy verstaan die natuur meer, want ons kyk almal National Geographic,  en die uitleg en die jare se formasie maak jou glo in wonderwerke, want dit is wat hierdie majestieuse grot is, ‘n absolute wonderwerk. Daar is reeds vernieling aan die grotte, met mense wat toe daar nog funksies in die grot gehou was “souveniers” geneem het. Of hul name in die grot muur gekerf het of met swart kersrook hul name teen die dak gestempel het. Dis belangrik dat almal die grotte sien, voor daar regtig ‘n 6 op die Richterskaal is, voordat daar ‘n rotsineenstorting is of nog meer geloofwaardig, die mense die plek verniel.

Groete uit die grot.
Laat jul eie avontuur begin…

LMH

2 comments:

  1. AWESOME Lesa!!!! Ek love jou taal gebruik! Dis presies wie jy is, meisie muis! Ag ons mis julle sommer nou! Ek het sopas ge +1 en sien na jou volgendes!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie Ettt! Mis ons ou buurmensies vreeslik! Hoop jul lees te lekker aan my volgendes. En kom kuier om saam te kom avontuur!

      Delete