Tuesday, December 20, 2016

George Oord – Die Suburban bliss van vakansieoorde

Dit is min dat mens vakansie akkomodasie vind wat jou laat voel dat jy op vakansie is en op dieselfde tyd soos huis voel. George Oord is juis net dit. Met gerieflike kamp spasie, karavaan staanplekke, enkelkamer en dubbelkamer chalets, is hierdie regtig ‘n lekker “home away from home”.


Chalet Nr 9 was ons tuise (Foto LMH)
Die chalet wat ons ingebly het was groot genoeg vir 6, met ‘n dubbelbed in hoofkamer, twee enkel beddens in die tweede en ‘n ‘sleepersofa’ in die TV kamer. Die chaltes het almal TV’s en DSTV (sodat mens nou nie verveeld is op die klein okkasies van reën nie) en die kombuise, al was hy klein, was gerieflik. Ek het net my oond gemis, aangesien ek lief is vir bak, en nog nie die twee plaat bak storie gemeester het nie.

Katrien die pou kom soek haar oggend krummels by ons voordeur
(Foto LMH)



Die oord het ook lekker eienskappe soos vriendelike werkers, gerieflike opruimspanne, ‘n swembad, tramolien en waskamer. Die waskamer het wasgoed doen vir my interesant gemaak omdat hul masjien soos ander laundromats coin operated was, en kon mens jouself verbeel jy is in ‘n Amerikaanse fliek of dalk was dit te veel DSTV. Andertye het ek die wasgoed ingegooi, my wekker op my selfoon gestel en saam met my man na die bosveld TV gekyk (dis nou die braaivuur).

Ek het maklik tuis gevoel tussen die lang bome, middag sonstrale wat deur die blare skyn en baie voëls om na te kyk en te luister. Daar was kort-kort ‘n Piet-my-Vrou wat roep-roep so met sonsondergang, eende wat waggel op perseel asof hulle die plek besit, selfs ‘n Loerie van tyd tot tyd het my oog gevang. Maar my gunsteling by ver is die groep van amper 10-12 poue wat hulself ook hier huisves. Ek het vining van hul begin hou, en hul het vining besef dat ek soggens vir hul krummels uitsit. So slim dat my man sommige oggende as ek laat sluimer my kom wakker maak met ‘n sarkastiese: “Jou kinders kom soek hulle kos.” Ek was vasbeslote dat ek met hul sou click en het my Disney Prinses titel geeis met die dat hul eventueel uit my hand geëet het.

Katrien se mooi man (Foto LMH)
Mens kan nie help om tog geheg te raak aan diere nie, en as jy soos ek is is die reël gewoonlik as hul ‘n naam kry, dan is dit verby. En so het ek dus vir Katrien ontmoet. Katrien was een van die grys vaal wyfie poue, met lang wimpers en was die eerste om uit my hand te peusel. Ons was onmiddelik maatjies. Sy het later ook haar man na ons gebring, die enigste pou met lang, flambojante vere, maar hy wou nie sy biscuit vir ons skut nie. Nietemin het ons wel elke oggend en elke aand lekker gekyk hoe hul saam drom op ons hout stoepie en toe ons vakansie tot einde kom, was ek inniglik hartseer om Katrien te verlaat, want sy het nie omgegee dat die mal tannie op die stoep wat so vrygewig krummels weggee met haar gesels nie.

Stoute apie (Foto LMH)


Wie ek nou wel nie meer vriende gemaak het nie is die apies. Vervetapies swaai soggens en saans deur die bome of soek na kos, maar as jy my vra soek hul net moeilikheid. En ek is 100% oortuig ek was geteiken, want hul het my brood gesteel wat vir de poue bedoel was, amper met ‘n koekiebak weggeglip, elke oggend moddervoetjiespore op my kar venster gelos en my waansinnig deur die take dopgehou. My man natuurlik het gedink ek is simpel, want al hierdie dinge het slegs gebeur wanneer hy nie by my was nie, en moes ek foto-evidence gee. Die apies is pragtig en oulik, maar ons het net nie gemeng nie. As hul op die stoep baljaar het ek maar eerder rustig gesit en Masterchef Australia kyk.

Die George oord is werklik baie gerieflik en lekker en met kamp plek en chalets beskikbaar is dit ‘n ideale ontspanning vir die familie. Dis ook gerieflik naby aan die Outeniqua Plaasmark (lees hier as jy my insetsel daaroorgemis het: http://grondpaddromers.blogspot.co.za/2016/11/outeniqua-plaasmark-n-naweek-gunsteling.html ) en ook Eden Meader Mall. Vic Baai is slegs 4km vanaf die oord met Wildernis ook net 7km weg.

Besoek gerus hul webblad www.georgeresort.co.za

Geniet die avontuur… passop net vir die apies!

LMH 

No comments:

Post a Comment